On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

International

Magdom Palestyne keer terug na Gasa

───   14:06 Mon, 27 Jan 2025

Magdom Palestyne keer terug na Gasa | News Article
Die Israeliese aanvalle het ongeveer 90% van Gasa se 2,3 miljoen inwoners verplaas. Foto: X

Tienduisende Palestyne het na die noorde van Gasa begin terugkeer nadat Hamas ingestem het om later vandeesweek drie Israeliese gyselaars te oorhandig.

Hamas het Saterdag (25/1) vier Israeliese vrouesoldate, wat sedert 7 Oktober 2023 as gyselaar gehou is, bevry in ruil vir 200 Palestynse gevangenes. Israeliese burger Arbel Yehoud sou eerste bevry word.

’n Magdom mense het te voet noordwaarts getrek langs ’n pad wat langs die Middellandse See se kus loop. Foto: X

Israel het Hamas daarvan beskuldig dat hy sy skietstilstand-ooreenkoms oortree het en gesê hy sal aanhou om die roete na die noorde van Gasa te versper omdat sy nie vrygelaat is nie.

Duisende Palestyne, wat probeer het om noordelike Gasa te bereik, het by Israel se militêre versperring bymekaargekom, waar hul vordering versper is.

Volgens die ooreenkoms wat daarna bereik is, sal Yehoud teen Donderdag saam met twee ander gyselaars vrygelaat word. Palestyne word van Maandag af toegelaat om terug te keer as deel van ’n ooreenkoms wat deur Katar bemiddel is om Yehoud se vrylating deur Hamas te verseker. 

Israel het sy verbod op hul terugkeer opgehef en die brose skietstilstand het staande gebly, volgens AP. Israeliese magte het daarna begin onttrek van die Netzarim-kontrolepunt en -korridor na Gasa. 

’n Menigte mense, van wie sommige babas in hul arms vashou of bondels besittings op hul skouers dra, het te voet noordwaarts getrek langs ’n pad wat langs die Middellandse See loop. Dit is die eerste keer sedert die vroeë weke van die 15 maande lange oorlog met Hamas dat burgerlikes toegelaat word om terug te keer na die streek.

Die vroeëre grootskaalse uittog is omgekeer nadat baie gevrees het dat dit permanent sou wees. Baie Palestyne, wat langer as ’n jaar in oorvol skuilings en tentkampe gewoon het, wil graag terugkeer, al is hul woonplek erg beskadig of verwoes deur Israeliese lugaanvalle.

Talle huise is deur Israeliese lugaanvalle verwoes. Foto: X

Yasmin Abu Amshah, ’n ma van drie, het 6 km gestap om haar beskadigde woning in die stad Gasa te bereik, wat steeds leefbaar is. Sy het die terugkeer aan BBC as ’n gelukkige een beskryf en gesê: “Die belangrikste ding is dat ons teruggekeer het.”

Die terugkeer is deur talle beskou as ’n teken van veerkragtigheid ná Israel se militêre veldtog, wat van stapel gestuur is in reaksie op die Hamas-aanval op 7 Oktober 2023 in die suide van Israel. 

Pres. Donald Trump van Amerika het intussen voorgestel dat die meeste van Gasa se bevolking eers tydelik elders hervestig word, insluitend in Egipte en Jordanië, om die oorloggeteisterde gebied “net skoon te maak”. Egipte, Jordanië en die Palestyne het dit verwerp te midde van vrese dat Israel dalk later nie weer sal toelaat dat vlugtelinge terugkeer nie.

Talle Palestyne wil graag terugkeer huis toe in die hoop op blywende vrede. Foto: X

Vroeg Maandagoggend het  gesinne gejuig en gehaas om hul skuilings te verlaat. Ghada, ’n ma van vyf, het gesê sy het alles ingepak en was gretig om terug te keer huis toe, met die hoop op blywende vrede.

Die Israeliese weermag het gewaarsku dat sy magte steeds aktief is in buffersones en het burgerlikes aangemoedig om weg te bly van militêre operasies. Israel se weermag het in ’n verklaring gesê dit het waarskuwingskote gevuur op “verskeie samedrommings van mense wat na die soldate opgeruk het en ’n bedreiging vir hulle ingehou het”.

In ’n breër konteks wil die wapenstilstand die 15 maande lange konflik beëindig wat veroorsaak is deur Hamas se aanval op 7 Oktober toe 1 200 Israeli’s doodgemaak en honderde ontvoer is. 

Die skietstilstand se eerste fase, wat tot vroeg in Maart duur, sluit die vrylating van 33 gyselaars en byna 2 000 Palestynse gevangenes in. Die tweede fase, wat ingewikkelder onderhandelinge behels, bly egter onopgelos.

Ongeveer 90 gyselaars is steeds in Gasa, en Israel glo dat minstens ’n derde, en tot die helfte, gesterf het.

’n Groot deel van Gasa is platgevee en ongeveer 90% van sy bevolking is verplaas. Foto: X

Die voortslepende konflik het aansienlike verwoesting in Gasa veroorsaak, Meer as 47 000 Palestyne het volgens Gaza se gesondheidsministerie gesterf, onder wie tallose vroue en kinders. Die Israeliese weermag beweer dat hulle meer as 17 000 Hamas-vegters doodgemaak.

Weens die oorlog is ’n groot deel van Gasa platgevee en ongeveer 90% van sy bevolking verplaas. Baie van diegene wat terugkeer huis toe sedert die wapenstilstand, se woonplek is in puin.

OFM Nuus cg/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.