Agriculture
Vrystaatse polisie wil stygende veediefstal, grensmisdaad opnuut hokslaan─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:47 Mon, 10 Feb 2025
![Vrystaatse polisie wil stygende veediefstal, grensmisdaad opnuut hokslaan Vrystaatse polisie wil stygende veediefstal, grensmisdaad opnuut hokslaan | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/2693541c-e97e-421a-883a-b496050f4f57.jpg?crop=0,157,450,410)
Veediefstal en bendegeweld bly ’n ernstige uitdaging in gebiede soos Ficksburg en omliggende dorpe in die Vrystaat.
In reaksie op ’n parlementêre vraag deur Thandiswa Linnen Marawu van die African Transformation Movement, sê die polisie hulle tref nuwe maatreëls om hierdie probleme die hoof te bied.
Marawu wou weet hoeveel gevalle aangemeld is van veediefstal en vuurwapens wat in bendegeweld gebruik is, veral op die grensdorp Ficksburg en omstreke.
Senzo Mchunu, minister van polisie, het geantwoord slegs in die 2023/24-boekjaar is 1 283 gevalle van veediefstal in die streek aangemeld, maar beklemtoon geen polisievuurwapens word met bendegeweld of veediefstal op hierdie grensdorpe verbind nie.
Mchunu het herhaal as enige polisievuurwapens in misdaad gebruik word, sal dit deeglik ondersoek word sonder aansiens des persoons. Die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies ondersoek alle veediefstalsake, ongeag wie betrokke is, selfs polisiebeamptes. Dit weerspieël die polisiediens se verbintenis daartoe om korrupsie te bekamp en skuldiges aan die man te bring.
Weens die toename in misdaad in die gebied aangrensend tot Lesotho is verskeie maatreëls getref om veiligheid op te skerp. Mchunu het optredes uiteengesit om grensmisdaad te bekamp, insluitend gereelde samewerking tussen Suid-Afrika se polisie en die berede polisie-eenheid van Lesotho.
Hierdie gesamentlike pogings is daarop gemik om grensmisdaad te verminder, insluitend veediefstal en misdaad deur mense wat SA oor die grens binnekom.
Voorts word gereelde veiligheidsvergaderings, besprekings deur die veediefstalinligtingsentrum en veldtogte gehou om misdaad te bekamp. Dit bied gemeenskappe die geleentheid om nou saam met die polisie te werk om veediefstal en ander misdaad te bestry.
Die Vrystaat het ook weeklikse blou-wit-lig-optredes op die platteland ingestel, waar gemeenskapslede en veiligheidsmaatskappye betrokke is om grensmisdaad hok te slaan.
Om samewerking tussen plattelanders en wetstoepassers te verbeter, is spesiale koördineerders vir landelike veiligheid by alle plattelandse polisiekantore aangestel. Hulle dien as skakel tussen gemeenskappe en die polisie om reaksietye op misdaadverslaggewing te verbeter.
Mchunu het die belangrikheid van voortgesette samewerking tussen provinsiale en nasionale instellings beklemtoon om die toenemende bedreiging van grensmisdaad die hoof te bied.
Kwartaallikse vergaderings word gehou tussen die polisie in die Vrystaat, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng, asook met Lesotho se berede polisie. Hierdie vergaderings, gelei deur die adjunk- provinsiale kommissaris vir polisie in die Vrystaat, is toegespits op gemeenskaplike uitdagings soos veediefstal, voertuigdiefstal, mensehandel en dwelmverspreiding.
Jabu Mbalula, Vrystaatse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, vra intussen Lesotho se regering moet saamwerk aan ’n moontlike gedeelde bevolkingsregister. Hy meen dit kan help om beter tred te hou van Lesotho-burgers wat Suid-Afrika onwettig binnekom, misdaad pleeg en dan spoorloos verdwyn.
Hy verwys na ’n onlangse voorval toe Lesotho-burgers na bewering ’n polisieman op Stilfontein doodgeskiet het. Operasie Shanela was reeds suksesvol ter bestryding van misdaad en onwettige mynbedrywighede, veral in Welkom, meen Mbalula.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg