On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Suid-Afrikaanse Merinowol pryk op wêreldverhoog

───   10:00 Thu, 16 Jan 2025

Suid-Afrikaanse Merinowol pryk op wêreldverhoog | News Article
Een van die uitrustings wat ten toon gestel is. Foto: Verskaf

Suid-Afrikaanse Merinowol het internasionale aandag getrek tydens die mees onlangse aflewering van Pitti Immagine Uomo.

Hierdie geleentheid, wat Dinsdag (14/1) by die Britse Instituut in Florence, Italië gehou is, het die voortreflike eienskappe van Suid-Afrikaanse wol beklemtoon, insluitend sagtheid, unieke krulpatrone en volle naspeurbaarheid.

Die Campaign for Wool en Cape Wools het kragte saamgesnoer om ’n spesiale mansklereversameling bekend te stel, ontwerp deur die bekende Suid-Afrikaanse mode-duo mmusomaxwell, bestaande uit Maxwell Boko en Mmuso Potsane. Hierdie paar, wat voorheen die internasionale Woolmark-prys gewen en ook met die Karl Lagerfeld-prys vir Innovasie bekroon is, het ’n reeks klere geskep wat hul Afrika-erfenis en kontemporêre kultuur weerspieël.

Van die unieke klere wat ten toon gestel is. Foto verskaf

“Volhoubaarheid is nog altyd die kern van ons ontwerpfilosofie. Ons is ongelooflik trots dat ons tuisland, Suid-Afrika, ’n betroubare bron wat volhoubaar gesertifiseerde wol bied. Ons eerste mansklere-versameling weerspieël ons liefde vir fyn aanpassing en bevat ons kenmerkende asimmetriese lae,” meen Mmusomaxwell.

Die versameling sluit wolmateriale van Moon, REDA, en Gerber & Co (SA) in, wat hul toewyding tot volhoubaarheid en etiese produksie beklemtoon. Verder is daar tydens die vertoning ook ander Merinowol-produkte uitgestal, verskaf deur prominente handelsmerke soos Core Merino, Lukhanyo Mdingi en Viviers.

Deon Saayman, Uitvoerende Hoof van Cape Wools meen hierdie is ’n opwindende geleentheid vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf. “Ons nuwe vennootskap met Oritain verseker dat Suid-Afrikaanse wol wêreldwyd geverifieer kan word deur middel van unieke ouditmetodologieë. Hierdie stelsel stel ons in staat om ’n herkomsmerk met ’n QR-kode op etikette te plaas, wat verbruikers inligting bied oor die produk se oorsprong.”

Meer inligting oor die uniekheid van SA Merinowol is ook gedeel. Foto verskaf

Peter Ackroyd, voorsitter van die Campaign for Wool, het die bedryf geprys: “Die Suid-Afrikaanse Merinowolbedryf lewer voortdurend hoëgehalte produkte wat aan internasionale omgewingstandaarde voldoen. Hierdie uitstalling het die wêreld gewys hoekom Suid-Afrika ’n voorloper in volhoubare wolproduksie is.”

Suid-Afrika huisves ongeveer 8,000 kommersiële wolboere en meer as 45,000 individuele gemeenskapsboere, wat afhanklik is van wolproduksie vir hul inkomste. Hierdie bedryf speel ’n deurslaggewende rol in die volhoubaarheid van talle plattelandse gemeenskappe.

OFM Agri

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.