Agriculture
Prestasie van produksieseisoen sleutelbepaler vir herstel in masjinerieverkope─── ELZETTE BOUCHER 09:29 Thu, 16 Jan 2025
Die prestasie van die 2024-’25-graan- en oliesadeproduksieseisoen sal ’n sleutelbepaler wees vir die herstel in masjinerieverkope.
Landbousakekamer Agbiz meen van die faktore wat tot laer verkope bydra is die feit dat die landbousektor die afgelope drie jaar hoër masjinerieverkope gehad het, ondersteun deur verbeterde inkomste weens goeie oeste en hoër kommoditeitspryse; die onlangse midsomerdroogte wat produsente onder finansiële druk geplaas het weens oesverliese; en dan ook relatief hoër rentekoerse vir ’n groot deel van 2024, waar plaasskuld meer as R200 miljard behaal het.
Hoofekonoom Wandile Sihlobo vertel daar is egter optimisme vanuit ’n landbouproduksie perspektief. “Die reën was laat in sommige streke en min in sommige, maar van middel Desember tot Januarie het dit aanhou reën. Ons is in ’n La Niña-tydperk, en dit kan oor die volgende twee maande gunstig bly reën oor ’n groot deel van Suid-Afrika.”
Daar bestaan wel kommer oor gebiede wat nog nie aanplantings kon voltooi nie en sukkel om in die lande te kom weens die nat toestande. “Dis reeds laat vir plant, want die tradisionele optimale plantvenster sluit einde Desember.”
PODCAST: South African farmers intend to plant slightly bigger area for grains this new season.https://t.co/KgSaQ7E2zN
— Wandile Sihlobo (@WandileSihlobo) January 15, 2025
Sihlobo herinner daar was wel baie seisoene waar boere aan die begin van Januarie gewasse geplant het en voortgegaan het om ’n goeie oes te behaal. “Vanjaar se uitdaging is dat ons in middel Januarie is met voordurende swaar buie wat in sommige streke verwag word. Ons vrees dus aanplantings sal tot einde Januarie duur.”
Die hoofrisiko met laat plant is die moontlikheid van rypskade later in die seisoen. “As ons gelukkig is om van ryp gespaar te word, soos ons die afgelope seisoene was, bly die vooruitsigte vir ’n beter graanoes, selfs met laat aanplantings.”
Suid-Afrikaanse produsente beoog om 4,47 miljoen hektaar somergrane en oliesade in die 2024-’25-seisoen te plant, ’n 1% verhoging op ’n jaargrondslag. “Ons sal volgende maand weet of hulle daarin geslaag het om hierdie area te plant, maar meer beslis aan die einde van Februarie,” sê Sihlobo.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie laat weet 444 trekkers is in Desember 2024 verkoop, ongeveer 16% minder as die 530 eenhede wat in Desember 2023 verkoop is.
“Algehele trekkerverkope vir die 2024-kalenderjaar is ongeveer 23% minder as verkope vir die vorige jaar,” sê voorsitter Willie Human.
Ses stropers is in Desember verkoop, 26 minder as die 32 eenhede wat die vorige Desember verkoop is. “Algehele stroperverkope in die 2024-kalenderjaar is ongeveer 60% minder as verkope die vorige jaar.”
Human meen die voorspelde daling in verkope van landboumasjinerie, tot ‘normale’ vlakke, is nou ’n werklikheid en trekkerverkope van ongeveer 6 200 is waarskynlik vir die 2025-kalenderjaar. “Dit is marginaal minder as die 6 465 eenhede wat in 2024 verkoop is. Stroperverkope sal na verwagting tussen 200 en 220 eenhede wees in 2025.”
Hy sê verder die La Niña-verskynsel is terug en meer wydverspreide reën het in die meeste somergewasgebiede geval. “Nietemin, is die meeste somergewasse op ’n kritieke punt van ontwikkeling en meer reën is nodig, minstens tot die einde van Februarie, om groei van die gewasse vol te hou. Boere sal gevolglik steeds omsigtig wees met besluite om nuwe landboumasjinerie aan te koop.”
OFM Agri cg