On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Prof. André Louw vereer vir dekades se bydraes tot ‘Blou Bybel’

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 24 Oct 2024

Prof. André Louw vereer vir dekades se bydraes tot ‘Blou Bybel’ | News Article
Prof Louw het tydens die bekendstelling in Sandton ’n spesiale eerbewys ontvang vir sy jare lange bydrae tot die boek.

Prof. André Louw, een van die mees gerespekteerde figure in die landbousektor, is tydens die bekendstelling van die sewende uitgawe van Finance and Farm Management vereer vir sy jare lange bydrae tot die ‘Blou Bybel’.

Finance and Farm Management, die gesaghebbende handleiding vir landbouers en finansiële instellings, se sewende uitgawe trek weer die landbousektor se aandag.

Die sogenaamde Blou Bybel het sedert die eerste uitgawe in 1981 gegroei van ’n bondige naslaanbron tot ’n omvattende gids van meer as 500 bladsye. In die jongste uitgawe val die klem op drie nuwe hooftemas wat toenemend relevant is vir die landbousektor: volhoubare landbou, wetlike vereistes en menslikehulpbronbestuur.

‘Groei nie net in omvang nie, maar ook in kwaliteit’

“Oor die afgelope 43 jaar het Finance and Farm Management nie net in omvang gegroei nie, maar ook in kwaliteit,” het prof. André Louw van die Universiteit van Pretoria wat sedert die begin by die samestelling van die boek betrokke is, in ’n onlangse onderhoud gesê.

“Ons het tred gehou met veranderende politieke, tegnologiese en finansiële omgewings. Dit is noodsaaklik dat boere, bankiers en universiteite hierdie veranderings verstaan en daarop reageer.”


Die boek is oorspronklik geskep om bankiers op te lei in landboufinansiering, vertel hy, maar mettertyd het dit uitgebrei en word nou ook op universiteitsvlak voorgeskryf.

“Ons het gesien hoe boere die afgelope paar dekades met nuwe uitdagings soos droogtes, politieke onsekerheid, en veranderende markomstandighede gekonfronteer word. Dit het beteken dat hulle beter finansiële bestuur moes aanleer om volhoubaar te bly.”

Die nuwe uitgawe bly getrou aan hierdie beginsels en bied ook riglyne vir die toekoms.

‘Spesiale eerbewys ’n aangename verrassing’

Louw het tydens die bekendstelling in Sandton ’n spesiale eerbewys ontvang vir sy jare lange bydrae tot die boek. “Dit was ’n aangename verrassing, en ek waardeer die erkenning vir dekades van harde werk,” sê hy beskeie.

Gevra hoe toekomstige uitgawes kan aanpas by veranderinge in die landbou, sê Louw dit sal moet konsentreer op innovasie en strategiese denke om boere te help om in ’n veranderende omgewing te floreer. Hy meen baie uitdagings lê vir die landbousektor voor, veral met betrekking tot tegnologiese vooruitgang, die gevolge van klimaatsverandering en biosekuriteit.

“Ons moet boere toerus om volhoubare praktyke te implementeer en gereed te wees vir internasionale standaarde, veral wat uitvoer betref. Die uitdaging lê daarin om boere en finansiële instellings voor te berei op die onsekere toekoms deur beter risikobestuur en tegnologiese aanpassings.”

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.