On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

‘A Country of 2 Agricultures’ debat bly relevant: ’n Jaar na publikasie

───   ROBYN SCHUTTE 12:15 Tue, 22 Oct 2024

‘A Country of 2 Agricultures’ debat bly relevant: ’n Jaar na publikasie | News Article
’n Jaar nadat A Country of 2 Agricultures die lig gesien het, bly die boodskap van die boek steeds aktueel in Suid-Afrikaanse landboukringe. Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landboubesigheidskamer (Agbiz), het onlangs vertel van die boek se goeie ontvangs en hoe die inhoud beleidsgesprekke beinvloed oor die ongelykhede in die landbousektor. Foto: X/WandileSihlobo

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landboubesigheidskamer (Agbiz), vertel van die boek se goeie ontvangs ’n jaar na sy vrystelling.

’n Jaar nadat A Country of 2 Agricultures die lig gesien het, bly die boodskap van die boek steeds aktueel in Suid-Afrikaanse landboukringe. Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landboubesigheidskamer (Agbiz), het onlangs vertel van die boek se goeie ontvangs en hoe die inhoud beleidsgesprekke beinvloed oor die ongelykhede in die landbousektor.

Volgens Sihlobo het die boek gesprekke rondom die landbou-dualisme, die verskille tussen kommersiële en kleinskaalse boerderye, versterk. Hierdie kwessie bly ’n sleuteluitdaging vir die sektor.

“Die boek se boodskappe en voorstelle bly steeds relevant, en sal waarskynlik vir baie jare nog waarde toevoeg tot beleidsontwikkeling,” sê hy.


Met die nuwe regering van nasionale eenheid en die aanstelling van John Steenhuisen as Minister van Landbou, blyk dit dat die boek se voorstelle reeds ’n impak het. Sihlobo vertel Steenhuisen het erken in sy eerste week as minister van landbou het hy die boek gelees en het dit sy denke gevorm.

“Alhoewel die regering verander het, het die onderliggende strukturele uitdagings nie verander nie,” sê Sihlobo. Hy benadruk dat die voorstelle in sy boek steeds nodig is om die langtermynuitdagings van landbougroei en insluiting aan te spreek.

Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings, insluitend hoë werkloosheid en voedselonsekerheid, onderstreep die noodsaaklikheid vir landbou-hervormings. “Landbougroei is twee tot drie keer meer effektief om armoede te verlig as enige ander sektor.

‘Sihlobo verklap dat daar reeds aan ’n opvolgboek gewerk word’

“Dit maak sin om landbou as prioriteit te stel,” meen Sihlobo, en voeg by voormalige tuislande steeds agterbly in landbouproduktiwiteit en armoede hoog is in hierdie gebiede. “Hierdie streke het wel onderbenutte grond en bied ’n geleentheid om landbouproduksie te verhoog en die tripelprobleme van armoede, werkloosheid en lae groei aan te spreek.”

Ten slotte het Sihlobo verklap dat daar reeds aan ’n opvolgboek gewerk word, saam met professor Johan Kirsten, wat sekere temas van A Country of 2 Agricultures verder sal verken. Hierdie nuwe werk word teen die einde van 2024 of begin 2025 verwag.

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.