Agriculture
Vooroesontkieming: ’n Bedreiging vir koringprodusente─── ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 23 Oct 2024
Vooroesontkieming, beter bekend as pre-harvest sprouting (PHS), veroorsaak toenemende kopkrap onder koringboere in Suid-Afrika.
Hierdie proses, waar sade begin ontkiem terwyl dit nog aan die plant is, het ’n beduidende impak op die opbrengs en kwaliteit van graan, wat dikwels lei tot finansiële verliese vir produsente.
Sandra Hull, ’n PhD-kandidaat aan die Universiteit Stellenbosch, het in haar navorsing gefokus op hierdie probleem en deel insigte oor die oorsake, risikofaktore en moontlike strategieë om PHS te bestuur.
Wat is vooroesontkieming?
Vooroesontkieming is ’n groot probleem vir koringboere, maar ook vir ander gewasse soos gars, mielies en sorghum. Dit lei tot verminderde opbrengste en kwaliteit van graan, wat veroorsaak dat die graan afgradeer kan word tot voergraan, wat ’n laer prys meebring.
Dit kom veral voor in gebiede met reënval, hoë humiditeit en warm temperature gedurende die oestyd. Gebiede in die somerreënvalstreek van Suid-Afrika loop die grootste risiko vir PHS.
Faktore wat vooroesontkieming bevorder
PHS word beïnvloed deur ’n kombinasie van omgewings- en genetiese faktore. Omgewingsfaktore soos reën, warm temperature en humiditeit skep ideale omstandighede vir ontkieming.
Ander faktore soos grondversouting, dou en sonlig speel ook ’n rol, hoewel min navorsing oor hierdie invloede gedoen is. Geneties is eienskappe soos saaddeursug en waslagies op die koringare belangrik, asook hoe sterk die are buig en plantgroeihormone.
Saaddormansie is van kritieke belang om PHS te voorkom.
Metodes om PHS te evalueer
In Suid-Afrika word PHS hoofsaaklik beoordeel deur die Hagberg-valgetaltoets, die alfa-amilase-ensiemtoets, en visuele waarnemings. Die Hagberg-toets meet die afbreek van stysel, wat die gehalte van die saad aandui.
Die alfa-amilase-toets bepaal hoeveel van die ensiem wat stysel afbreek deur die saad geproduseer is. Visuele waarnemings kyk na ontkiemingstekens soos die uitgroei van die radikel en coleoptiel.
Hoewel die Hagberg- en alfa-amilase-toetse sterk met mekaar korreleer, stem visuele waarnemings dikwels nie ooreen met hierdie toetse nie, wat dit moeilik maak om ’n konsekwente beeld van PHS-vatbaarheid te kry.
Omgewing en genetika: ’n delikate interaksie
Hull se navorsing, onderneem deur die Departement Agronomie by Universiteit Stellenbosch en ondersteun deur Grain SA, het getoon dat die interaksie tussen die omgewing en genetiese eienskappe van koring deurslaggewend is in PHS-vatbaarheid.
Verskeie proefpersele in 11 koringproduserende streke is geëvalueer en die resultate het gewys dat omgewings- en genetiese faktore saamwerk om die risiko vir PHS te bepaal. Sommige koringvariëteite is beter aangepas vir sekere omgewings en loop minder risiko vir vooroesontkieming.
Strategieë om vooroesontkieming te bestuur
Om PHS-risiko te beperk, beveel Hull aan dat boere variëteite kies met hoë saaddormansie en PHS-verdraagsaamheid wat goed aangepas is vir plaaslike toestande. Weerstoestande moet ook noukeurig dopgehou word, veral tydens kritieke groeifases.
Landboupraktyke soos die gebruik van plaagdoders en bemesting kan ook ’n invloed hê, hoewel meer navorsing nodig is om die volle impak hiervan te verstaan.
Sy nooi enige boere wat sukkel om haar te kontak via e-pos by sandrahull@sun.ac.za