On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

NAMPO Alfa 2024: ’n Veefees met die beste van die beste

───   ROBYN SCHUTTE 13:00 Tue, 22 Oct 2024

NAMPO Alfa 2024: ’n Veefees met die beste van die beste | News Article
Beeste word beoordeel tydens die NAMPO Alfa Interras-kompetisie.

Die NAMPO Alfa2024 ekspo het vanjaar weereens bo verwagting gevaar, met goeie samewerking van uitstallers én bywoners.

Albert Loubser, een van die NAMPO Alfa hooforganiseerders, het gesê dat die reëlings glad verloop het, met gunstige weerstoestande en suksesvolle biosekuriteitsmaatreëls wat alles bygedra het tot die sukses van die geleentheid.

Volgens Loubser was daar groot tevredenheid met die verloop van die geleentheid. “Die reëlings het vlot verloop en ons het goeie samewerking van beide uitstallers en bywoners ervaar. Selfs die weer het mooi saamgespeel, en die biosekuriteitsmaatreëls was in plek,” het hy verduidelik.

Wat die bywoning betref, het Loubser genoem dat die syfers hoër as verlede jaar was, alhoewel die presiese getalle nog nie beskikbaar is nie. Hy beklemtoon dat ondanks uitdagings in die landbousektor en ekonomie, die uitstallers steeds goeie besigheid gedoen het, wat daarop dui dat die koopkrag nog steeds sterk is.


NAMPO Alfa bied ’n unieke platform vir uitstaande lewende hawe, en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Loubser het gesê: “Die Old Mutual GNSA nasionale interras kampioenskap was die hoogtepunt van die skou. Ons het PJ Butler, ’n beoordelaar van wêreldgehalte, gehad, en dit was ’n voorreg om hom by die geleentheid te verwelkom.”

Wat die wenners betref, was daar geen tekort aan prestasies nie. John Devlin se koei van Devlin Limousines het as wenner uitgetree, terwyl Nico Venter van Adel Simmenthalers se bul die manlike kategorie gewen het. Loubser het bygevoeg: “ ’n Kompetisie word gedefinieer deur sy wenners, en ons is bevoorreg om sulke voortreflike wenners te hê.”

Hy het verder verduidelik dat die gehalte van die diere hierdie jaar buitengewoon was. “Diere moes eers as interraswenners by ander skoue kwalifiseer om by Alpha te kan deelneem, wat beteken die kompetisie was baie sterk,” het hy gesê. Nico Venter se bul het net die vorige dag by die Lichtenburg-skou gekwalifiseer, wat sy oorwinning des te meer merkwaardig gemaak het.

Uitbreidings vir 2025

Wat volgende jaar se NAMPO Alfa betref, is daar verskeie areas vir uitbreiding. Loubser hoop om meer boere en hul gesinne by die ekspo te sien. “Met die jag- en buitelewe-afdeling, veral op Saterdae, bied NAMPO Alfa ’n wonderlike geleentheid vir die hele familie,” het hy gesê.

Verder sal die uitbouing van geleenthede soos die RPO en NALFA-SA se kongresse, asook die Landbouweekblad en SA Stamboek akademie, verdere waarde toevoeg tot die ekspo. “Hierdie kongresse dra sterk inhoud by tot die geleentheid,” het Loubser verduidelik.

Een Woord: Veefees

As Loubser NAMPO Alfa2024 in een woord moes opsom, sou dit “veefees” wees. “Daar was letterlik niks wat ’n veeboer nie by Alpha kon vind nie. Dit was ’n geleentheid waar elke rolspeler in die veebedryf iets kon leer of beleef,” het hy afgesluit.

NAMPO Alfa 2024 het weereens bewys hoekom dit as een van die hoogtepunte op die landboukalender beskou word.

OFM Agri/Robyn Schutte

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.