On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

NAMPO Alfa opperste kampioene albei van Sentraal-SA

───   ELZETTE BOUCHER 15:42 Sun, 20 Oct 2024

NAMPO Alfa opperste kampioene albei van Sentraal-SA | News Article
Hierdie bekede telers van Sentraal-Suid-Afrika kan nou spog met nog ’n gesogte pluimpie.

Twee beestelers van Sentraal-Suid-Afrika het ’n groot pluimpie ontvang.

Op Vrydag (18/10) het bekende internasionale beoordeelaar, PJ Budler DL 21-156 Devlan Kelly van John en Tracey Devonport se Devlan Limousins op Vaaldam as die beste vroulike dier, en NV 21-6 Von-Adel Peru van Nico en Tuané Venter se Von-Adel Simmentalers op Ventersdorp as beste bul gekies.

Die Beestinterraskompetisie op NAMPO Alfa is die hoogtepunt op die veeprogram. Tydens dié geleentheid ding beeste van regoor die land mee wat vroeër in die jaar interraskompetisies by skoue gewen het.

NV 21-6 Von-Adel Peru van Von-Adel Simmentalers op Ventersdorp. Foto verskaf

Budler het tydens die prysuitdeling op NAMPO Park buite Bothaville vertel hy het vanjaar reeds ongelooflike beeste gesien wat verskeie kompetisies regoor die land gewen het. “Nou is dit net my taak om my gunstelinge vir julle te kies. Die wenbul het ’n baie goeie strukturele balans. Sy spierontwikkeling en algemene kondisie was uitstekend. Dit is juis hierdie tipe eienskappe wat ’n wendier onderskei.”

Venter vertel hoe trots hy is op sy lieflingbul. “Dis eintlik ’n groot voorreg om hier te wees. Hy’t hierdie hele week by Lichtenburg geskou waar hy senior kampioen en ook opperste kampioen gewen het. Ons moes hom vinnig op ’n trok laai en hierdie kant toe bring. Hy was so bietjie moeilik en eintlik maar moeg geskou, maar toe hy in die ring instap toe ‘show’ hy net. Dit was wonderlik.”

Budler het Venter se bul as ’n uitsonderlike dier beskryf. “Ons kyk na baie aspekte in ’n interraskompetisie, maar hierdie bul het regtig uitgestaan vir sy gehardheid en gesondheid. Hy verteenwoordig die beste van sy ras.”

@ofm.agri En die wenner is…. Beoordeelaar PJ Budler van die VSA het NV 21-6 Von-Adel Peru van Von-Adel Simmentaler van Nico en Tuané Venter as die beste bul van die Beesinterraskompetisie by #NAMPOAlfa2024 ? original sound - OFM Agri

Die Devonports se Limousinvers, wat verlede maand die kampioen vroulike dier op die Parysskou was, het vroeg reeds in die kompetisie Budler se oog gevang. “Hierdie is ’n ongelooflike dier met ’n blink toekoms. Sy is gebalanseerd, vroulik, en het sterk moederlike eienskappe. Sy het genoeg spiere vir ’n vroulike dier sonder om grof te wees. Sy het ’n pragtige uier en wanneer sy wegstap, merk jy die volheid van die uier saam met haar vleis en spiere.”

DL 21-156 Devlan Kelly van Devlan Limousins. Foto: Devlan Limousins

Benewens die wen was Devonport ook beïndruk met die beoordeelaar se aanbiedingstyl. “Hy is ’n ongelooflike beoordelaar. Dit was so verfrissend om na hom te luister. Die manier waarop hy die diere aanbied en verduidelik hoe hy by sy besluit kom, was regtig merkwaardig vir my.”

@ofm.agri And the winner is… Judge PJ Budler from the USA selected DL 21-156 Devlan Kelly from Devlan Limousins of John and Tracey Devonport as the best female animal of the Cattle Interbreed Competition at #NAMPOAlfa2024 . This beautiful girl was the winner of the BKB Africa Livestock Expo in Parys, last month. #Congratulations ? original sound - OFM Agri

Budler het groot geword op ’n 5de generasie beesplaas in Suid-Afrika. Op 15-jarige ouderdom het hy BonHaven Beef Cattle gestig en na drie lande uitgebrei. Hy’t in 2012 na Texas, VSA, verhuis.

Devonport, wat op die oewer van die Vaaldam boer, vertel die vers se sege verbreek agt jaar se wendroogte. “Dis ’n baie spesiale gevoel ná baie harde werk. Die laaste keer wat ons dit gewen het, was in 2016. Die manne wat agter die skerms help en al die harde werk doen, Petrus Mofokeng en Anwill Coetzee, is in ekstase, en dit is welverdiend. Dit is baie harde werk en baie teleurstellings wat jy moet deurmaak, maar vanaand is soet. Ons is baie bevoorreg en dankbaar om te gewen het.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.