On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer in Oos-Kaap: Jongste vanaf departement

───   10:16 Sun, 15 Sep 2024

Bek-en-klouseer in Oos-Kaap: Jongste vanaf departement  | News Article
Foto: Getty Images

“Die gesamentlike pogings van georganiseerde landbou en die betrokke rolspelers vir hul hulp om die uitbreking te beheer word aangeprys/is prysenswaardig.”

In sy jongste opdatering oor die uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap, het die departement van landbou laat weet tot op hede is 33 plase in die Humansdorp-omgewing en een plaas in die Oos-Londen-gebied positief getoets, en inentings is reeds gedoen.

Minister John Steenhuisen het egter ernstige kommer uitgespreek oor herhalende kliniese simptome op sommige plase binne die siektebestuursgebied, wat vroeër besmet of ingeënt is. “Hierdie simptome dui op die voortdurende sirkulasie van die virus en verhoog die risiko van verspreiding na omliggende gebiede.”

Vordering met inentingsstrategie

Die departement het ook aangekondig dat daar op ’n verdere 36 plase voorkomend ingeënt is om die erns van simptome te verminder indien daar infeksies voorkom. “Sedert die uitbreking in Mei 2024 begin het, is altesaam 96 906 beeste en 635 skape ingeënt. Meer as 12 000 diere het ook ’n tweede inenting ontvang weens virusopvlamming op sekere plase.”

Abattoirs en beheerde slagting

Om boere te help om hul dieregetalle op besmette plase te verminder, is twee abattoirs aangewys vir die slag van gespletehoefdiere vanaf plase onder kwarantyn. Vier plase het toestemming ontvang vir beheerde slagting, met 56 beeste wat reeds in die Humansdorp-omgewing en 40 in die Oos-Londen-omgewing geslag is. “Hierdie beheerde slagtings verseker dat risikomateriaal veilig verwerk of vernietig word, en dat slegs veilige produkte in die plaaslike mark vrygestel word.”

Beperkings op beweging

Volgens die kennisgewing in die Staatskoerant van Julie 2024, mag gespletehoefdiere, regoor Suid-Afrika, slegs verskuif word indien vergesel van ’n gesondheidsverklaring van die eienaar. “Hierdie vereiste, wat sedert Oktober 2022 in werking is, word beklemtoon om verdere verspreiding van die siekte te voorkom.” Die departement versoek boere landwyd om dierebeweging te beperk, aangesien dit help om moontlike besmette plase te identifiseer en onder kwarantyn te plaas.

Biosekuriteitsmaatreëls

Produsente word ook sterk aanbeveel om biosekuriteitsprotokolle op hul plase toe te pas. Dit sluit in die skeiding van nuwe diere van bestaande troppe vir minstens 28 dae, die beperking van kontak tussen diere van verskillende plase, en die handhawing van streng higiëneprotokolle vir personeel en besoekers.

Verslagdoening en aansoeke vir verskuiwingspermitte

Sedert die uitbreking, is 610 aansoeke om dierebeweging buite die siektebestuursgebied goedgekeur, terwyl 19 aansoeke geweier is weens nie-nakoming van prosesse, luidens die departement. “Binne die gebied is 19 aansoeke goedgekeur en ses nog in proses. Ook is 2 876 skape is vir slagting na abattoirs buite die provinsie verskuif.”

Die departement het op 26 Julie 2024 die gebied afgekondig, wat gedeeltes van die Kouga- en Kou-Kamma-munisipaliteite insluit. “Die hoofdoel van die gebied is om verdere verspreiding van die siekte te voorkom. Alle verdagte simptome moet onmiddellik aan die plaaslike staatsveearts gerapporteer word. Die gesamentlike pogings van georganiseerde landbou en die betrokke rolspelers vir hul hulp om die uitbreking te beheer word aangeprys.”

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.