On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Afrika se potensiaal vir landbou

───   05:00 Wed, 18 Sep 2024

Afrika se potensiaal vir landbou  | News Article
AgriSA HUB Johann Kotzé praat by Agri Noord-Kaapkongres. Foto: OFM

“Volgens die USDA bied Afrika se veranderende demografiese en ekonomiese patrone groot geleenthede vir handel en beleggings in die landbousektor.”

Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA, het tydens Agri Noord-Kaap se onlangse jaarkongres in Kimberley, onder meer die groot potensiaal uitgelig wat Afrika landbouers bied.

Volgens Kotzé is Suid-Afrika onlosmaaklik deel van die Afrikavasteland, en is daar nie ’n skeiding tussen Suid-Afrika en die res van Afrika nie.

“Afrika het sedert 2005 ’n bevolkingstoename van 40% ervaar. Vandag is die gemiddelde ouderdom van ’n Afrikaan net 18,8 jaar, wat beteken dat die helfte van die bevolking jonger as 18 is,” sê Kotzé.

Hierdie groei plaas enorme druk op voedselvoorsiening en landbouhulpbronne. Die situasie is vererger deur droogtes, veral in lande soos Zimbabwe en Zambië, wat tans tot voedselkrisisse vir miljoene mense lei.

Volgens navorsing van Amerika se landboudepartement is Afrika se bevolking reeds meer as 1,4 miljard mense, en daar word verwag dat dit een van die vinnigste groeiende streke in die wêreld sal bly. Die Verenigde Nasies voorspel dat Afrika teen die einde van hierdie eeu die mees digbevolkte streek ter wêreld kan wees, met ’n bevolking van tot 3,4 miljard mense.

Hierdie vinnige bevolkingsgroei, tesame met ’n verhoogde tempo van verstedeliking, sal die vraag na landbouprodukte en voedselinvoer aansienlik laat styg.

Afrika was eens in die 1960’s selfversorgend in voedselproduksie, maar hierdie situasie het dramaties verander. Droogtes en ander faktore het gelei tot ’n afname in voedselvoorsiening, en ’n groot deel van die kontinent is tans afhanklik van invoer om aan die groeiende vraag te voldoen.

‘Hierdie afhanklikheid toon hoe belangrik landbou steeds vir die vasteland is’

Volgens die USDA dui produksietendense daarop dat Afrika se landbou-uitset nie genoeg sal wees om sy groeiende bevolking te voed nie.

Kotzé wys verder dat ongeveer 48% van Afrika se bevolking direk afhanklik is van landbou vir hul inkomste. 

“Landbou dra tussen 25% en 30% by tot die totale ekonomiese aktiwiteit in baie van Afrika se lande. Hierdie afhanklikheid toon hoe belangrik landbou steeds vir die vasteland is, maar dit stel ook groot uitdagings aan voedselsekerheid.”

Kleinskaalboere speel ’n sleutelrol in Afrika se voedselsekerheid. Kotzé sê dat ongeveer 75% van Afrika se boere kleinskaalboere is, en hoewel hulle dalk nie groot kommersiële boere sal word nie, maak hulle ’n beduidende bydrae tot die voedselvoorsiening van die kontinent.

“Gaan hulle ooit gekommersialiseerd of groot kommersiële boere raak? Nie noodwendig nie. Maar, Afrika se model van ‘small scale farmers’ werk tot op hede. Is dit die beste model? Dis irrelevant.”

Volgens die USDA bied Afrika se veranderende demografiese en ekonomiese patrone groot geleenthede vir handel en beleggings in die landbousektor. Die toename in verstedeliking sal lei tot veranderende verbruikersvoorkeure, met ’n groter vraag na meer diverse en gerieflike voedselsoorte soos voorbereide kosse en dierlike proteïene.

‘Afrika se mark is nie net groot nie, maar ook hoogs gesofistikeerd’

Die groeiende mark in stedelike gebiede skep geleenthede vir die ontwikkeling van landbou- en voedselwaardekettings, wat Afrika kan help om sy binnelandse voedselbehoeftes beter te bevredig en om internasionale uitvoermarkte te bedien.

Kotzé wys ook daarop dat 28% van Suid-Afrika se uitvoere na Afrika gaan, wat bewys dat die kontinent ’n belangrike handelsvernnoot vir Suid-Afrika is. Afrika se mark is nie net groot nie, maar ook hoogs gesofistikeerd, met verbruikers wat baie spesifieke kwaliteitseise het.

Soos die USDA navorsing beklemtoon, bied die groeiende vraag en veranderende voedselpatrone op die vasteland groot geleenthede vir diegene wat bereid is om in Afrika se landboubedryf te belê.

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.