On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Stadig oor die klippe: Plaas Providence en Goddelike sorg gaan hand aan hand

───   KAREN VAN DER BERG 10:19 Fri, 13 Sep 2024

Stadig oor die klippe: Plaas Providence en Goddelike sorg gaan hand aan hand | News Article
Shandor Potgieter, Oom Kiewiet en Wentzel op die plaas. Foto: OFM

“Dit was nie altyd maklik nie, maar ons het die Here daarvoor gevra. En vandat ons hier boer was ons al die ooggetuies van baie wonderwerke om ons.”

Shandor Potgieter, OFM-omroeper, besoek plase in sentraal Suid-Afrika om agter die kap van die byl te kom oor plase se ryk erfenis en unieke tradisies.

Om plase, hulle name en die storie agter die name te verken is OFM se opwindende nuwe reisavontuur se doel, spesiaal vir September, oftewel, Erfenismaand.

Goddelike sorg is die betekenis van die plaas Providence, in die Winburg-distrik, se naam.

Die bekende liedjieskrywer, Wentzel, wat hier boer, sê die naam kon nie beter gekies gewees het nie. Hoewel niemand weet presies wie het op die naam besluit nie, is Goddelike sorg presies waaroor boerdery gaan.


“Op ’n plaas sorg ’n mens vir jou diere, vir jou beeste en skape. Natuurlik ook vir jouself en vir jou medemens. Dit is waaroor dit gaan.” Wentzel vertel hulle is nou reeds tien jaar op die plaas. “Dit bly so ’n groot voorreg. Ons familie het nou maar net ’n liefde vir boer.”

Hulle boer hoofsaaklik met simbras, ’n kruisras bees, en vleismerino’s. “Dan is daar ook bietjie wild. Hoofsaaklik vir die lekker en vir die kyk,” sê Wentzel.

Wentzel vertel aan Shandor die grootste uitdagings op die oomblik vir boere in hulle distrik is die gebrek aan weiding vanweë die vorige seisoen se veldbrande. “Maar ten spyte van die uitdagings bly boerdery in ’n mens se hart.”

OFM het gaan inloer op die Plaas Providence waar sanger Wentzel boer. Foto: OFM

Vir Wentzel is dit veral die oomblikke van stilte wat hom bekoor. “Jy kan nou luister. Jy hoor die voëltjies. Jy hoor die rustigheid.”

Daar is egter nog ’n passie in Wentzel se lewe. Wanneer hy oor sy liedjieskrywery begin praat, slaan sy vel sommer in hoendervleis uit. Wentzel se een liedjie was selfs al nommer een op OFM se Top 30. “Dit is moeilik om al die balle in die lug te hou. Maar om te sing is ’n droom wat waar geword het.” Hy beplan ook nie om gou op te hou nie.

Oom Kiewiet, Wentzel se pa, beaam dat die plaaslewe al hulle verwagtinge oortref het. “Dit was nie altyd maklik nie, maar ons het die Here daarvoor gevra. En vandat ons hier boer was ons al die ooggetuies van baie wonderwerke om ons.”

• Moenie die volgende episode van dié reisavontuur misloop nie.

OFM


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.