On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Saai veroordeel voortgesette veediefstal en wreedheid

───   18:14 Thu, 12 Sep 2024

Saai veroordeel voortgesette veediefstal en wreedheid | News Article

“Die misdadigers moet met wortel en tak uitgeroei word en die kriminele markte waarheen die vleis vloei, moet vernietig word.”

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het van SA Red Meat (SARMC) verneem dat daar onlangs nog ’n wrede veeslagting in die Vrystaatse Goudveld-area plaasgevind het. In die vroeë oggendure van Woensdag (11/9) is ’n boer van die Ventersburg/Virginia-omgewing se beeste genadeloos doodgemaak en afgeslag. ’n Ontstellende video van die grusame voorval is versprei en toon hoe die diere op die oop veld geslag is.

Dit volg kort ná soortgelyke aanvalle op 24 en 30 Augustus 2024, wat vermoedelik deur dieselfde groep uitgevoer is. Hierdie insidente het plaasgevind op verskeie plase in die Goudveld-area, en sake is by Hennenman se polisiestasie geopen. 

Daar word vermoed dat die groot hoeveelhede vleis wat op hierdie wyse verkry word, bestem is vir die zama-zama-mark. Die teenwoordigheid van vuurwapens in die hande van hierdie misdaadbendes is ’n moontlikheid wat nie uitgesluit kan word nie.

Hierdie slagtings is nie net ’n bedreiging vir die veiligheid van familieboere en hul werknemers nie, maar ook vir volhoubare boerdery. Dit het ’n rampspoedige ekonomiese impak op die plattelandse gemeenskappe wat reeds onder groot druk verkeer. 

“Die misdadigers moet met wortel en tak uitgeroei word, en die kriminele markte waarheen die vleis vloei, moet vernietig word. Slegs wanneer die SAPD effektief teen die zama-zama-mark optree, sal die strooptogte beëindig kan word,” sê dr. JJ de Villiers, besturende direkteur van SA Red Meat.

Saai dring daarop aan dat die SAPD optree teen die zama-zama-bendes wat landwyd, maar veral in die Vrystaatse Goudveld, aktief is. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sluit af: “Hierdie wreedaardige voorvalle van veeslagtings is ’n uitvloeisel van die toenemende veediefstal probleem in Suid-Afrika en Saai is besig met aksieplanne om dit stop te sit.”

Verklaring verskaf

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.