On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Rioolkrisis teister boere op Springfontein – VIDEO’s, FOTO’s

───   10:29 Tue, 10 Sep 2024

Rioolkrisis teister boere op Springfontein – VIDEO’s, FOTO’s | News Article
Riooldamme in Springfontein loop oor en vloei in spruit in. Foto verskaf

Ná ondersoek het hy ontdek dat riooldamme in Springfontein oorloop en besoedelde water in die spruit op sy plaas vloei.

Boere in die Springfontein-omgewing in die Vrystaat wag op antwoorde van die owerhede nadat hulle kommer uitgespreek het oor die voortdurende storting van rioolwater in spruite, wat uiteindelik hul weivelde besmet en hul vee benadeel. 

Volgens Shelton Staples, ’n boer wat ongeveer vier kilometer buite die dorp boer, is hierdie probleem reeds vir ses maande aan die gang.

Staples vertel dat hy en sy vrou elke middag ná vyf die onaangename reuk van rioolwater opmerk wanneer hulle op hul stoep sit. Die reuk kom veral sterk voor wanneer die noord-oostelike wind waai. 


Ná ondersoek het hy ontdek dat riooldamme in Springfontein oorloop en besoedelde water in die spruit op sy plaas vloei. Hierdie spruit is slegs honderd meter van sy huis en dien as watertoevoer na sy vee, aangesien hy geen ander waterbron in die kamp het nie.

‘Twee karkasse ongeskik vir menslike verbruik verklaar’

Op 26 Augustus het Staples vyftig ou ooie na Driefontein-slagtery geneem. Tot sy ontsteltenis is twee van die karkasse as ongeskik vir menslike verbruik verklaar. Al sy vee is ingeënt en gesond verklaar, wat hom laat vermoed dat die besoedelde water die oorsaak van die probleem is.

Staples het watermonsters van die spruit laat neem om deeglik te laat toets, aangesien hierdie soort voorval in sy tien jaar van boerdery nog nooit gebeur het nie. Hy het die probleem reeds by die plaaslike munisipaliteit aangemeld, maar daar was tot op hede geen optrede om die situasie reg te stel nie.

In ’n poging om die saak verder te neem, het Staples ook ’n klag ingedien by die Departement van Water en Sanitasie, wat hom vinnig bewysmateriaal gevra het. Hy wag egter steeds vir ’n reaksie van die owerhede.

Die voortdurende oorstroming van riooldamme en die gepaardgaande besoedeling hou groot nagevolge vir boere in die omgewing in. Hierdie probleem is nie net ’n gesondheidsrisiko vir vee nie, maar dit bedreig ook hul lewensbestaan. Boere, insluitend Staples, hoop dat dringende stappe geneem sal word om hierdie ernstige situasie te hanteer.

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.