On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Beheermaatreëls wys effektiwiteit

───   10:59 Mon, 02 Sep 2024

Bek-en-klouseer: Beheermaatreëls wys effektiwiteit | News Article
Foto: National Animal Health Forum

“Die goeie nuus is dat die beheermaatreëls wat ingestel is, blyk effektief te wees. Tot op datum is daar geen verdere verspreiding van die siekte buite die grense van die BKMB waargeneem nie.”

Die Departement van Landbou het die gehoorsaamheid van boere en die breër publiek in die gebiede in die Oos-Kaap, wat deur uitbrekings van bek-en-klouseer geraak word, geprys.

“Hul samewerking met die maatreëls is van kardinale belang vir die sukses van die bek-en-klouseerbeheer in die streek,” noem die departement in ’n verklaring wat dui dat die bek-en-klouseer bestuursgebied (BKMB) op 26 Julie 2024 ingestel is in dele van die Kouga- en Kou-Kamma-munisipaliteite om die verspreiding van die siekte, wat sedert Mei in hierdie gebiede uitgebreek het, te voorkom.

“Die goeie nuus is dat die beheermaatreëls wat ingestel is, blyk effektief te wees. Tot op datum is daar geen verdere verspreiding van die siekte buite die grense van die BKMB waargeneem nie.”


Op die oomblik is 33 plase in die Humansdorp-gebied en een plaas in Oos-Londen as positief vir bek-en-klouseer bevestig en het reeds die nodige inentings ontvang. “Hierdie inentings speel ’n kritiese rol om die verspreiding van die virus onder beheer te hou. Verdere ondersoeke na verdagte letsels op diere op ander plase word steeds voortgesit, met een geval wat wag op toetsresultate.”

Nog 36 plase se vee is voorkomend ingeënt om die erns van moontlike toekomstige infeksies te verminder. “Tot op hede is ’n totaal van 96 906 beeste en 635 skape ingeënt, wat ’n duidelike aanduiding is van die doeltreffendheid van die departement se strategie om ’n massiewe vee-epidemie te voorkom. Die beheermaatreëls het duidelik gehelp om verdere verspreiding te voorkom.”

’n Tweede ronde inentings het reeds begin, met die fokus op plase waar kliniese simptome waargeneem is. “Vyf plase het simptome onder hoog gestresde beeste en kalwers getoon, wat dui op die belangrikheid van vroeë inenting. Hierdie simptome is hoofsaaklik waargeneem onder beeste wat vir die eerste keer kalf, en onder kalwers wat onlangs gespeen is. Hierdie plase is geïdentifiseer as hoë-risiko-gebiede en het prioriteit vir inenting geniet.”


Dertien plase naby dié waar simptome getoon is, is ook as prioriteitsplekke vir inentings aangewys. Tot op datum het ses van hierdie plase reeds die nodige inentings ontvang, met 11 949 diere wat ingeënt is. Die oorblywende sewe plase sal hierdie week ingeënt word.  

Die departement het egter ook sy kommer uitgespreek oor herhaalde simptome op sekere plase wat voorheen ingeënt is, wat daarop dui dat die virus steeds in sekere gebiede sirkuleer. “Hoewel die verspreiding buite die BKMB beperk is, is die risiko van verdere oordrag steeds hoog, en biosekuriteit bly van deurslaggewende belang om die siekte onder beheer te hou.”

‘Kanse op verdere verspreiding van siekte só tot die minimum beperk’

Op ’n nasionale vlak het die Staatskoerant-kennisgewing van Julie 2024 verdere beheermaatreëls ingestel wat spleethoewige vee regoor die land raak. Lewendehawe mag slegs verskuif word indien dit vergesel word van ’n gesondheidsverklaring van die eienaar wat bevestig dat die diere gesond is. Verder moet nuwe vee op ’n plaas vir minstens 28 dae apart gehou word voordat hulle by bestaande kuddes gevoeg word. Hierdie regulasie, wat sedert Oktober 2022 van krag is, word nou herbeklemtoon om te verseker dat geen verdere siekteverspreiding plaasvind nie.

Boere landwyd word versoek om vee se beweging te beperk tot absoluut noodsaaklike gevalle. “Hierdie maatreëls, tesame met streng biosekuriteitsprotokolle, bied ’n geleentheid om verdere onopgemerkte besmette plase te identifiseer en te isoleer. Deur hierdie proaktiewe maatreëls in plek te hou, word die kanse op verdere verspreiding van die siekte tot die minimum beperk.”

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.