On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Isabel Saunderson hou haar boer ‘op sy voete’

───   ELZETTE BOUCHER 08:39 Fri, 23 Aug 2024

Vroue in Landbou: Isabel Saunderson hou haar boer ‘op sy voete’ | News Article
Isabel Saunderson trakteer haar man, Charl, met ’n piekniek in die veld. Foto verskaf

“Ek en Charl doen dinge op twee maniere. ‘It's either joined by the hip, or divide and conquer.’ ”

Isabel Saunderson se stem is nie onbekend op OFM nie. Sy moes al noodgedwonge inspring en help om haar man, Charl, se insetsel op die OFM Agri Uur te behartig nadat hy sy stem verloor het tydens ’n besoek aan Mexiko waar hy ’n dorperskou beoordeel het.

En hierdie gebaar spreek tot die persoon wat sy is. Die Saunderson-egpaar is meestal saam te sien, as dit nie op landbougeleenthede is nie, beslis op sosiale media en ’n Whatsapp-status. Hulle is ’n eenheid van sukses.

Isabel was “oorspronklik ’n Baai-meisie wat in Port Elizabeth (vandag Gqeberha) gematrikuleer en daar studeer het”. Daarna het sy na Bloemfontein verhuis en dis ook waar sy vir Charl ontmoet het. Die paar het aanvanklik eers in dorpe en stede gewoon, maar so tien jaar gelede besluit “om die stof van die stad af te skud” en toe voltyds plaas toe gegaan.

Die plaas is natuurlik Nooitgedacht in die Kenhardt-distrik in die Noord-Kaap, waarvan Charl elke Vrydagoggend so vriendelik groet wanneer hy sy praatjie afsluit. Daar boer hulle met wit-en-swartkopdorpers, en dié bekroonde stoetery is welbekend in skaapkringe.

“Ons is die vierde geslag wat op Nooitgedacht boer. Charl se oupagrootjie, sy oupa en sy pa het voor ons op die plaas geboer.”

Isabel vertel graag van haar vakansies as kind op haar Oupa se plaas. “Hy het soggens vroeg deur die plaashuis geloop en in sy beste Engels geskree ‘All seats please’ en dan het ons kleinkinders soos vlakhase gehardloop om betyds by die bakkie te kom, want hy wag vir niemand nie, en ons wou nie agterbly nie.”

Charl en Isabel Saunderson. Foto verskaf

Middae is daar saam met Ouma hanslammers melk gegee en eiers uitgehaal. Somertye is in die plaasdam geswem en “as Oupa nie gekyk het nie, skelm probeer perd ry,” skerts sy. “Dit was wonderlike, wonderlike dae.”

Sy is gou om te vertel dat sy nie self boer nie, maar dis duidelik uit haar gesprek dat haar hande vir niks verkeerd staan nie en sy selfs Charl se regterhand is. “Charl se pa het altyd ’n sêding gehad, ’n perd is nie gemaak om ’n ploeg te trek nie. So ek is nie die boer nie. My man laat my nie die harde werk doen nie. Ek is nie eens ’n boervrou nie, ek is die boer se vrou.”

Isabel verduidelik haar rol as dié van die vrou wat “die boer op sy voete hou”. “Ek en Charl doen dit op twee maniere. ‘It's either joined by the hip, or divide and conquer.’

’n Piekniek in die veld is een van die maniere wat die Saunderson-egpaar hul eie 'magic' maak. Foto verskaf

“As ons dan ‘joined by the hip is’, dan beteken dit ons doen alles saam. As hy veld toe ry, maak ek vir hom hekke oop. As hy ent en doseer gee ek spuitjies en botteltjies aan, as hy die lammers weeg, trek ek vir hom die skaal se meganismes.”

Dan op ander dae, wanneer hulle nie saam werk nie, staan sy gereed met middagete of ’n eetdingetjie vir kliënte. “As hy gaan om skoue te gaan beoordeel, dan bly ek op die plaas agter en kyk dat als vlot verloop of as hy die dag in die krale moet werk en daar’s voer nodig, sal ek dorp toe ry om voer te gaan laai.”

Isabel vertel sy is eintlik met sterre in haar oë en haar kop in die wolke plaas toe, want sy het wonderlike herinneringe van plaaslewe uit haar kinderdae gehad. “Vir ’n jonger Isabel sou ek nou graag wou sê ‘Sussie, tot hiertoe het jy teerpad gery, maar maak vas jou veiligheidsgordel, die grondpad lê voor. Jy moet weet jy sal meer lag as wat jy ooit tevore in jou lewe gelag het, jy gaan meer huil as ooit tevore en harder werk as ooit, meer bid – die plaaslewe is nie vir sissies nie. Maar, jy gaan gelukkiger wees as ooit tevore.”

Padskraap raak ook spanwerk. Foto verskaf

Haar raad aan ander vroue in ’n ondersteunende rol op ’n plaas is tweeledig:

“‘We make our own magic’. Ek sal sommer as ons nie na die plaaslike winkelsentrum toe kan gaan om die nuutste fliek te kyk nie, vir ons ’n kombers op die gras oopgooi, die rekenaar opstel en as my ou liefling tuis kom, springmielies skiet en dan hou ons ’n movie night.” Sy vertel ook as hulle nie kan vakansie gaan hou nie, dan vat hulle die pad na die plaasdam en maak dit ’n belewenis.

Dinge verloop nie altyd soos beplan nie. “Daar's droogtes, vrektes, hael en allerhande dinge, maar ek leef volgens hierdie: ‘Put your hand in the hand of the man who stilled the water, put your hand in the hand of the man who calmed the sea, put your hand in the hand of the man from Galilee.’ Dit is hoe ons ons lewens inrig hier op Nooitgedacht.”

Isabel salueer elke vrou in ’n ondersteunende rol op ’n plaas. “Die boervroue wat ek in die laaste sewe tot tien jaar ontmoet het, terwyl ek op die plaas bly, is elkeen ongelooflike vroue wat groot uitdagings in die gesig staar vir vrouwees, maar hulle maak die beste van elke dag.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.