On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Georganiseerde landbou, provinsiale regering moet beter saamwerk in Noord-Kaap

───   ELZETTE BOUCHER 09:04 Thu, 22 Aug 2024

Georganiseerde landbou, provinsiale regering moet beter saamwerk in Noord-Kaap | News Article
Die president van Agri Noord-Kaap, Willem Symington. Foto: OFM

“Ek wil ernstig vra dat die regering my pleidooi hoor en na my uitreik sodat ons kan help waar nodig om ’n beter lewe vir al die inwoners van die Noord-Kaap te skep.”

Willem Symington, president van Agri Noord-Kaap, het tydens sy openingsrede Woensdag (21/8) by die organisasie se jaarkongres in Kimberley, ’n pleidooi aan die provinsiale regering gerig om meer gereeld met die organisasie te skakel.

Hy’t verskeie uitdagings waarmee die bedryf in die provinsie te kampe het, uitgelig en gevra vir beter samewerking tussen produsente en die regering. Die provinsie gaan nie net onder uiterste klimaatgebeure soos droogtes gebuk nie, wat lei tot ramptoestande, maar verbrokkelende padinfrastruktuur en beurtkrag het die besproeiingsbedryf ook op ’n stadium op sy knieë gedwing. Dit is maar net van die daaglikse uitdagings.

Met verwysing na die nuwe politieke bestel wat ná die nasionale verkiesing beding is, het Symington gesê die uitdaging lê daarin “oor hoe ons gaan reageer en funksioneer binne hierdie nuwe omgewing”. Hy het gewaarsku dat daar versigtigheid aan die dag gelê moet word wanneer oor politici en nuutverkose amptenare gepraat word. 

“Ek sien nie ’n ‘verlosser’ op die horison deur net ’n nuwe regeringsamptenaar aan te stel of deur ’n nuwe party in die regeringstruktuur in te bring nie, maar ek sien wel geleenthede vir ons provinsie.”

Symington het verder sy begeerte uitgespreek om die verhouding tussen Agri Noord-Kaap en die regering te verbeter. “My grootste wens as verteenwoordiger van ’n groot deel van die boere in ons provinsie is om ’n beter verhouding te hê, nie net met die uitvoerende gesag nie, maar ook met die wetgewende lede van ons samelewing.”

‘Onhoudbaar dat Agri Noord-Kaap sukkel om afsprake met ons premier te maak’ 

Hy het ook sy frustrasie uitgespreek oor die betreurenswaardige gebrek aan toegang tot sleutelamptenare. “Dit is vir my onhoudbaar dat Agri Noord-Kaap sukkel om afsprake te maak met ons premier; om gereeld met ons LUR van landbou te ontmoet. Dit is ’n situasie wat eintlik ondraaglik is en ek verstaan nie die sin daarin nie.”

Symington het klem daarop gelê dat Agri Noord-Kaap nooit ’n selfsugtige agenda sal dryf wanneer daar met die regering in gesprek getree word nie. “My ervaring, veral oor die laaste tien jaar, is dat waar ons betrokke was en deelgeneem het aan prosesse, ons dit makliker gemaak het vir die regering om suksesvolle uitkomste te bereik in soveel gebiede.”

Noord-Kaapse LUR vir Landbou, Mase Manopole. Foto: OFM

Hy het ’n dringende beroep op die regering gedoen om samewerking te verbeter. “Ek wil ernstig vra dat die regering my pleidooi hoor en na my uitreik sodat ons kan help waar nodig om ’n beter lewe vir al die inwoners van die Noord-Kaap te skep.”

In haar repliek het die Mase Manopole, die LUR vir landbou, onderneem om met Agri Noord-Kaap te ontmoet en saam te werk om landbou in die provinsie uit te bou. Sy het sterk klem gelê op die noodsaaklikheid van samewerking tussen die regering en landbousektor in die Noord-Kaap en erkenning gegee aan die uitdagings wat boere en die landboubedryf het, veral ten opsigte van infrastruktuur en die stand van paaie wat noodsaaklik is vir die bedryf se sukses.

“Ek het die oproep gehoor en ons sê die regering moet sy deel doen,” het Manopole gesê. Sy het herinner aan ’n vroeëre vergadering tydens die sesde administrasie, waar leierskap van die landbousektor hul bekommernisse uitgespreek het oor die gebrek aan genoegsame betrokkenheid van die regering. “Dit is nie genoeg nie, die betrokkenheid moet deurlopend wees.”

Die Agri Noord-Kaap jaarkongres word gestroom op hul Facebookblad.

Sy het verder verduidelik dat die regering wel oop is vir deelname, en dat Agri Noord-Kaap gereeld op uitnodigings reageer en waardevolle bydraes lewer tydens vergaderings. Manopole het voorgestel dat hulle dalk op kwartaallikse grondslag kan vergader om voortdurend inligting en kwessies te deel. “Ek het reeds punte opgestel van die agenda, gebaseer op die sake wat julle vroeër in die kongres gedeel het.”

Met verwysing na die toestand van paaie, het Manopole verduidelik dat sy reeds met die LUR vir Openbare Werke geskakel het om paaie oor te dra aan die nasionale regering vir beter instandhouding. “As ’n begin het hulle ingestem om 900 kilometer oor te neem. Maar die LUR sal aanhou om te onderhandel vir meer paaie, veral dié wat tussen plaasgemeenskappe deurloop gaan.”

Manopole het ook daarop gewys dat die toekoms van landbou in die Noord-Kaap afhanklik is van innovasie en diversifikasie. Sy het uitgesien na die moontlike toekomstige vergaderings waar platforms geskep sal word om die landbou se potensiaal te ontgin en beleggers te betrek om die sektor te laat groei.

‘Laat ons probeer om dit wat ons produseer hier te verwerk’

“Ek glo dat georganiseerde landbou my kan help, want ek het ’n verantwoordelikheid om die ekonomie van ons provinsie te herbedink en om te verseker dat die bydrae tot die BBP verhoog. Laat ons probeer om dit wat ons produseer hier te verwerk en die waardeketting hier te laat groei.”

Manopole het die rol van kollektiewe krag beklemtoon, veral in die fokus op klimaatsbestande gewasse met hoë waarde, wat volgens haar die sleutel is tot ’n moderne, suksesvolle provinsie wat ook die globale uitdagings kan trotseer. “Ek glo in samewerking. Dankie vir die geleentheid om ook die regering se boodskap met die kongres te kon deel.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.