On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Byleveld, Agri Noord-Kaap se planmaker

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Wed, 21 Aug 2024

Vroue in Landbou: Byleveld, Agri Noord-Kaap se planmaker | News Article
Janine Byleveld. Foto: OFM

“Ek hoop my bydrae tot die landbousektor is om my kennis aan te wend om innoverend en proaktief op te tree.”

Sedert 2019, is Janine Byleveld, die bedryfsbeampte in Ekonomie, Handel en Natuurlike Hulpbronne by Agri Noord-Kaap. 

Oorspronklik van Hartbeesfontein in Noordwes, is sy deel van ’n familie wat al vir drie generasies lank boer. Vandag woon sy op Hartebeespoort met haar man en twee kinders, met ’n derde een op pad.

Haar kinderjare is gevul met kosbare herinneringe aan die landboulewe, soos hoe sy as kind aan die slaap geraak het op die trekker tydens saaityd en die onvergeetlike oomblik wanneer die eerste saailinge deur die grond breek. “Vroegoggend waar die grond nog ’n bietjie nat is; dis ’n reuk, ’n klank en ’n gevoel wat ek nie enige ander plek ooit sal kry nie.”

Hierdie ervarings het ’n diep liefde vir landbou by haar gekweek.

Byleveld het aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer, waar sy haar studies in Ekonomie en Internasionale Handel begin het. Later het sy haar spesialisasie verskuif na Landbou-ekonomie en Risiko-bestuur, aangesien sy besef het dat daar groot geleenthede in die landbousektor is.

Sy het ’n visie gehad om nuwe markte te ontgin en boere te help om aan te pas by die veranderende klimaatstoestande.

‘Sy het besef dat daar ’n groot behoefte bestaan vir ramphulp in die provinsie’

“Daar’s verskriklik groot geleenthede vir nuwe maniere en praktyke, maar ook om markte te ontgin vir produkte wat nie noodwendig al gesaai, of geplant is in Suid-Afrika nie. So ook moet die boere dan aanpas en daarom is dit nodig dat daar kennis is en geleenthede geskep word.”

Met haar betrokkenheid by Agri Noord-Kaap het sy besef dat daar ’n groot behoefte bestaan vir ramphulp in die provinsie.

“Ek is mal daaroor om mense te help. So het ek by Agri Noord-Kaap begin werk, eers net met die bedrywe, maar toe verder my kennis gebruik om meer geleenthede te skep waar ons as organisasie boere kan help met subsidies en fondsinsamelings.”

Later is ’n stigting geskep wat fokus op die hantering van verskeie rampe in die streek. “So is ons gerat om donasies te ontvang en ook seker te maak daar's ’n goeie sisteem om dit uit te deel en betroubaar te wees.”

Byleveld hoop haar bydrae tot die landbousektor is om haar kennis aan te wend om innoverend en proaktief op te tree. Daar word byvoorbeeld tans aan ’n projek gewerk om indringerspesies in die Noord-Kaap te gebruik om ’n laekoste, hoëproteïenpil vir vee te ontwikkel.

“Hierdie projek het die potensiaal om landbouers te help om meer volhoubaar en koste-effektief te boer.”

‘Dis regtig belangrik dat daar ’n span kundiges bymekaar is’

In haar tyd in georganiseerde landbou het Byleveld geleer dat daar nie een plan is wat sukses waarborg nie, maar dat die gemeenskap van rolspelers in die landbousektor altyd gereed is om mekaar te ondersteun. Haar nalatenskap is om seker te maak dat die landbouers op hulle plase kan bly en die nasie kan voed sonder te veel eksterne uitdagings.

“Daar moet konstant ’n meganisme gesoek word om seker te maak ’n landbouer kan boer en doen waarvoor hy lief is. En dis regtig belangrik dat daar ’n span kundiges bymekaar is wat konstant dink aan die ontwikkeling van die plase.”

Byleveld se toekomsvisie vir landbou in Suid-Afrika is eenvoudig: “laat die landbouers boer sodat die nasie kan eet”. Dit is haar primêre fokus en wat sy glo van kritieke belang is vir die land se toekoms.

OFM Agri/Elzette Boucher-Kruger mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.