On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Rockman slaan hand aan die ploeg by landbou

───   ELZETTE BOUCHER 09:11 Sat, 29 Jun 2024

Rockman slaan hand aan die ploeg by landbou  | News Article
Die nuwe LUR vir Landbou in die Vrystaat, Elzabé Rockman, oorhandig vlootvoertuie. Foto: Vrystaatse Departement van Landbou

“Personeel benodig voertuie as ’n instrument om daaglikse dienste soos plaasbesoeke, assesserings, monitering en evaluering uit te voer.”

Die nuwe LUR vir Landbou in die Vrystaat het haar eerste week in die amp afgesluit met onder meer ’n seremonie waartydens ’n dosyn nuwe vlootvoertuie aan landbouvoorligtingsbeamptes oorhandig is om hul werk in die provinsie te vergemaklik.  

‘Dit is ’n opwindende geleentheid’

By die plegtigheid op Glen buite Bloemfontein, het Elzabé Rockman aan OFM Agri vertel die departement, wat nou ook die portefeulje van omgewingsake insluit, het die vermoë om die welstand van Vrystaters op voetsoolvlak te verbeter.

Sy het ook uitgebrei oor haar eerste indrukke van die nuwe departement. “My ervaring sover was baie positief. Ek is entoesiasties oor die landbou- en omgewingsake-portefeulje. Daar is enorme geleenthede om ’n werklike impak in die lewens van ons mense te maak deur verskeie bemagtigingsinisiatiewe, hetsy in ekonomiese ontwikkeling of kapasiteitsbou. Dit is ’n opwindende geleentheid.”

‘Ons prioriteite sluit in jeugwerkloosheid en vrouebemagtiging’

Oor enige nuwe planne kon Rockman nog nie veel vertel nie, maar het wel van die fokuspunte vir die departement uitgelig. “Die begroting moet nog goedgekeur word en ons is tans besig met baie hersiening en inligtingsessies om areas te identifiseer waar ons werklik ’n verskil kan maak. Ons prioriteite sluit in jeugwerkloosheid en vrouebemagtiging. Die departement moet ook meer landbouprojekte vir gestremdes en veterane skep.”

Sy het verder genoem dat die provinsie ook nou daadwerklik moet aandag skenk aan klimaatsverandering. “Boonop is die integrasie van die omgewingsake-portefeulje met die landbou noodsaaklik. Klimaatsverandering is ’n belangrike kwessie wat die Vrystaat moet aanspreek, en ons beplan om breedvoerig hieraan te werk.”

Die Isuzu-bakkie staan parkeer op 'n gras veld.

Die nuwe voertuie wat vir die voorligtingsbeamptes as vloot beskikbaar is. Foto: Vrystaatse Departement van Landbou. 

Vrydag (28/6) is 12 nuwe bakkies aan voorligtingspersoneel, teenwoordigend van al vyf distrikte van die Vrystaat, oorhandig. Die voorligtingsbeamptes het nou toegang tot ’n totaal van 25 vlootvoertuie en 83 gesubsidieerde voertuie. Rockman het egter planne onthul om nog sowat 25 voertuie deur die herstelprogram aan te skaf. "Ons wil ’n vloot van hierdie voertuie oral in die provinsie hê sodat ons sigbaar in staat is om ’n verskil te maak. Boere moet ons ken en ons sien.”

Hierdie voertuie sal gebruik word as hulpmiddel vir voorligtingspersoneel om hul daaglikse voorligtingsdienste uit te voer wat insluit: plaasbesoeke, uitvoerbaarheidstudies, plaasassessering, implementering van projekte, asook monitering en evaluering.

“Landbouvoorligting en -adviesdienste is die gesig van die departement van landbou wanneer daar met die boeregemeenskap geskakel word,” het Rockman gesê. Sy het klem gelê op die samewerkingspoging wat van alle regeringsvlakke vereis word om die praktiese toepassing van landboukennis te bevorder deur diverse voorligtings- en uitreikaktiwiteite.

Twee vroulike landbouvoorligtingsbeamptes by 'n nuwe Isuzu-bakkie.

Die voorligtingsbeamptes sal die voertuie gebruik om vinniger en meer gereeld by die gemeenskap aan te doen. Foto: Vrystaatse Departement van Landbou

“Landbouvoorligting is die hoeksteen om landbou-innovasie aan boere oor te dra en hulle aan te moedig om by nuwe boerderyvaardighede, -kennis en -stelsels aan te pas.”

Rockman het ook die landbouvoorligting-herstelplan aangeraak, ’n program wat ontwerp is om die tekortkominge in voorligtings- en adviesdienste aan te spreek. “In ’n stadium was die boeregemeenskap baie krities en het gesê: 'Ons sien nie opvoedkundige beamptes nie. Ons voel nie hul teenwoordigheid nie. En ons (die departement) kan soveel meer doen.' Hierdie program is ontwikkel om daardie tekortkominge te begin aanspreek,” het sy verduidelik.

Tans het die Vrystaat 116 voorligtingsbeamptes en bestuurders. Rockman het egter die behoefte aan meer personeel beklemtoon om die gaping tussen die huidige verhouding van een beampte per 1 552 boere en die aanbevole verhouding van een per 256 te oorbrug. "Ons het ’n groot werk wat ons voorlê, en daar is baie werk wat nog gedoen moet word,” het sy erken.

'n Nuwe Isuzu-bakkie met die Vrystaat Departement van Landbou se handelsmerk en kleure.

Een van die nuwe voertuie van nader beskou. Foto: Vrystaatse Departement van Landbou

Die herstelplan en die plasingsplan vir gegradueerdes het ten doel om nie net die uitdagings van voorligtingsbeamptes aan te spreek nie, maar ook werkloosheid onder die jeug. “Ons moet gebruik maak van die befondsing wat tans beskikbaar is om meer personeel te werf.”

Rockman het ook die waarde van voorligtingsadviesdienste beklemtoon as ’n katalisator vir die bemagtiging van produsente en die bevordering van produksie. “Personeel benodig voertuie as ’n instrument om daaglikse dienste soos plaasbesoeke, assesserings, monitering en evaluering uit te voer.”

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.