On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbousektor waarsku teen Eskom se beoogde kostestruktuur

───   05:29 Mon, 10 Jun 2024

Landbousektor waarsku teen Eskom se beoogde kostestruktuur | News Article
Foto: Bloomberg

Georganiseerde landbou is baie bekommerd oor Eskom se tariefplanne.

Vrystaat Landbou (VL) het die kommer uitgespreek oor Eskom se nuutste planne om die vaste koste-komponent van elektrisiteitsrekeninge drasties te verhoog. Die huidige voorstel behels ’n aanpassing van die koste-struktuur van 30% vaste koste en 70% kraggebruik, na ’n omgekeerde verhouding van 70% vaste koste en 30% kraggebruik.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, betaal boere reeds hoë vaste koste en sal die voorgestelde veranderinge die landbousektor verder finansieel onder druk plaas. Wilken het daarop gewys dat die verskaffing van elektrisiteit dikwels in die nuus was vir al die verkeerde redes, en hoewel die beskikbaarheid van elektrisiteit die afgelope 70 dae verbeter het sonder enige beurtkrag, is daar twyfel oor die volhoubaarheid hiervan.

Wilken meen dat die huidige stabiliteit in die elektrisiteitsvoorsiening moontlik verband hou met die verkiesing, of die gevolg is van ’n toename in alternatiewe kragoplossings soos sonkrag, wat die vraag na Eskom-krag verminder het. Hierdie afname in vraag het Eskom genoop om sy koste-struktuur te heroorweeg, maar dit kan die instelling duur te staan kom, aangesien dit kliënte verder kan vervreem.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. Foto verskaf

Boere staar reeds hoë insetkoste in die gesig en dra ook by tot die instandhouding van paaie sonder vergoeding. Wilken het gesê dat die nuutste poging om meer geld van verbruikers te kry niks anders is as blatante oëverblindery nie, en dat dit nie Eskom se finansiële krisis sal oplos nie, selfs nie met die onlangse regeringsreddingsboei nie.

Die ironie dat ’n produkverskaffer sy kliënte ontmoedig om die produk te gebruik om beurtkrag te vermy, is vir Wilken amper ongehoord. Hy meen dat hierdie strategie nou teruggekom het om Eskom te byt, en die betalende kliënte moet weer die prys betaal.

‘Prosesseringsaanlegte benodig betroubare en bekostigbare krag om vars produkte en vleis vars te hou’

Die koste van alternatiewe energie het goedkoper as Eskom geword, en baie gebruikers wend hulle nou tot hierdie opsies. Alhoewel Eskom as ’n rugsteun die infasering van alternatiewe energie vergemaklik het, kan die nuwe prysverhogings en moontlike koolstofbelasting verbruikers dwing om heeltemal van die netwerk af te gaan.

Intussen is nie almal in staat om hierdie oorgang te maak nie, aangesien die koste van batterystoor-kapasiteite steeds ’n uitdaging bly. Ekstensiewe veeboerderye betaal reeds meer aan vaste koste as vir die krag wat hulle werklik gebruik, en landbou-prosesseringsaanlegte benodig betroubare en bekostigbare krag om vars produkte en vleis vars te hou.

Vrystaat Landbou is van plan om Eskom se aansoek by NERSA teen te staan sodra dit vir publieke insette geopen word. Die organisasie is bekommerd oor die groot koste-implikasies vir kleiner en intensiewe boerderye en prosesseringsaanlegte wat direkte kliënte van Eskom is, en sal alles in hul vermoë doen om hierdie verandering te verhoed.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.