Agriculture
Bees van die week: Die Droughtmaster─── ELSABÉ RICHARD 07:00 Tue, 23 May 2023
Die Droughtmaster-bees is amptelik as Droughtmaster SA geregistreer en val nou onder SA Stamboek.
Dit is ‘n unieke bees wat oorspronklik van Australië afkomstig is.
SA Stamboek se Japie van der Westhuizen deel dat die Droughtmaster 'n kombinasie van ander beeste soos die Bos Indicus (Zebus) is, waarvan die Brahman ook deel is.
Droughtmaster-beeste (Doughtmaster SA/Facebook).
Die Droughtmaster is in Desember 2022 as 'n ras in die Staatskoerant verklaar, wat die telers die reg gee om die naam te gebruik en ook as onafhanklike telers van 'n ras in Suid-Afrika kan opereer.
Die teling van rasse
“Ek dink [wat belangrik is] is aan die eenkant wil jy ‘n ras teel wat gehard is en wat die moeilike weersomstandighede, veral hitte en selfs bietjie droogte, kan hanteer. Maar aan die ander kant wil jy nie die goeie eienskappe in terme van reproduksie of vrugbaarheid opgee nie, en jy wil ook goeie vleiskwaliteit behou,” sê Van der Westhuizen.
Die Droughtmaster-genootskap beskryf dié bees as die ideale beesras vir produsente wat op soek is na herhaalbaarheid, voorspelbaarheid en volhoubaarheid.
Voordele van registrasie van verskillende rasse
Van der Westhuizen verduidelik Suid-Afrika het unieke wetgewing waaraan voldoen moet word, naamlik die Diereverbeteringswet. Die wet bepaal dat, in die eerste plek, ‘n ras verklaar moet word. Dit beteken dat daar wettiglik erkenning gegee word dat ‘n ras uniek en eie aan die land is, en op grond hiervan, mag die ras die spesifieke naam gegee word soos Droughtmaster SA.
"So 'n ras het dan ook die reg, as jy genoeg telers het, om 'n telersgenootskap te stig. Daardie telersgenootskap sien dan om daarna dat die doelwitte bereik word in terme van die teling van daai diere.
"Die [Droughtmaster]-telers het geweet dat hulle 'n unieke ras beet het en dat hulle dit as 'n afsonderlike ras kan registreer in Suid-Afrika."
Luister na die volle onderhoud: