Agriculture
Plaasbewoners se vee: Wat moet ooreenkoms vervat?─── 08:38 Tue, 07 Jan 2025
Die kwessie rondom die aanhou van vee deur plaasbewoners bly ’n netelige saak, veral in lig van die verwagte uitspraak in die Konstitusionele Hof oor die bekende Maladora Trust-saak.
Regskenner Hans-Jurie Moolman verduidelik hoe bestaande regspraak en wetgewing hierdie komplekse kwessie hanteer.
Hy beklemtoon die reg om vee aan te hou spruit in die meeste gevalle voort uit ’n ooreenkoms tussen die grondeienaar en die plaasbewoner. “ ’n Ooreenkoms is ’n belangrike woord in hierdie konteks aangesien dit die reëls en voorwaardes bepaal waarvolgens vee aangehou mag word.”
Volgens Moolman is daar spesifieke aspekte wat in so ’n ooreenkoms aangespreek moet word:
- Getal vee: Die ooreenkoms moet spesifiseer hoeveel vee die plaasbewoner mag aanhou.
- Ligging: Waar die vee aangehou sal word, byvoorbeeld in ’n spesifieke kamp, moet duidelik aangedui word.
- Wetgewing: Die ooreenkoms moet voldoen aan relevante wette soos: die Wet op Dieresiektes, die Wet op Identifikasie van Diere, die Wet op Bewaring van Natuurlike Hulpbronne en die Wet op Veediefstal.
Hierdie wette is van toepassing op grondeienaars én plaasbewoners wat vee aanhou.
Een van die grootste uitdagings is die mededinging tussen grondeienaars en plaasbewoners oor natuurlike hulpbronne soos plantegroei, wat noodsaaklik is vir diere se voeding. In gevalle waar diere nie aanvullende voeding ontvang nie, kan dit tot konflik lei.
Moolman raai grondeienaars en plaasbewoners aan om skriftelike ooreenkomste op te stel wat:
- die regte en verpligtinge van beide partye duidelik uitspel;
- die tydsduur van die ooreenkoms aandui; en
- verseker dat die bepalings van die ooreenkoms in lyn is met nasionale wetgewing.
Hy beklemtoon verder dat verblyfreëlings dikwels deel is van ’n diensooreenkoms, en dat dit noodsaaklik is om die bepalings rondom die aanhou van vee ook daarin te integreer.
Moolman moedig verder produsente aan om regsadvies in te win indien daar onsekerheid bestaan oor hul regte en verpligtinge rakende die aanhou van vee op plase.
OFM Agri cg