On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

AMT-ontleding: Groter druk op pryse verwag

───   05:00 Wed, 08 Jan 2025

AMT-ontleding: Groter druk op pryse verwag | News Article
Foto: Getty Images

Dr. Johnny van der Merwe, ekonoom by AMT, bied in sy jongste analise ’n oorsig van ekonomiese tendense en die impak daarvan op plaaslike markte.

Valuta en oliepryse

Die rand het die afgelope twee weke aansienlik verswak en verhandel teen R18,58 teenoor die Amerikaanse dollar. Hierdie verswakking is deels toe te skryf aan die sterk ondersteuning wat die dollar ontvang het, aangevuur deur verwagte nuwe ekonomiese statistieke uit die VSA.

Die Brent-ruolieprys het gestyg na $76,46 per vat, weens verwagtinge dat China verdere stappe sal doen om sy ekonomie te stimuleer. Rekordkoue temperature in Europa en Amerika kan ook die vraag na olie verhoog, terwyl Amerika se olievoorraadvlakke verder gedaal het.

Plaaslike graanmarkte

Op die Suid-Afrikaanse termynmark het witmielie- en geelmieliepryse skerp gedaal. Witmielies se spotprys het Maandag en Dinsdag tot R6 681 per t. gedaal, terwyl geelmielies op R5 407 per t. staan. 

Sojabone het ’n soortgelyke neiging getoon, met die spotprys wat op R9 300 per t. beloop. Sonneblompryse het ook afgeneem tot R9 700 per t.

Internasionaal bly mieliepryse sterk weens lae globale voorraadvlakke en goeie verkope, terwyl sojabone onder druk bly as gevolg van goeie produksietoestande in Brasilië en stadige vraag uit China.

Veemarkte

  • Speenkalwers: Pryse het gedurende die vakansietydperk gestyg en verhandel tans tussen R33 en R35 per kg. Pryse oor die volgende paar maande kan relatief sterk bly weens goeie weidingstoestande.
  • Skaap: Lampryse het weens beter vraag toegeneem, met die A2/3-prys op R94,18 per kg.
  • Vark: Spekvarkpryse het verbeter tot R32,51 per kg, terwyl vleisvarkpryse op R33,82 staan.
  • Hoender: Pryse het sywaarts beweeg, met vars hoender wat op R35,73 bly.

Vooruitsigte

Dr. Van der Merwe voorspel dat daar oor die komende maande groter druk op pryse kan wees, veral weens laer vraag in Januarie. Hy het ook beklemtoon dat internasionale faktore soos Amerikaanse mielieaanplantings en die reënval in somerproduksieareas van groot belang gaan wees.

OFM Agri mvh


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.