On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Boerdery byna onbegonne taak weens infrastruktuur diefstal

───   ELSABÉ RICHARD 08:05 Thu, 09 Feb 2023

Boerdery byna onbegonne taak weens infrastruktuur diefstal | News Article

Boere in dele van Limpopo gaan onder weeklikse diefstal van kragkabels, koperpype, sonpanele en transformators gebuk.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se Marcelle Maritz vertel dat veral boere in die Mara-, Alldays-, Mogwadi- en Waterpoort-omgewing hierdeur geraak word.

Sy sê die diefstal van belangrike infrastruktuur lei tot miljoene rande se skade en dat daar nie fondse beskikbaar is om dit te vervang nie.

Maritz deel dat spilpunte nie kan funksioneer wanneer kabels en transformators gesteel is nie. Dit belemmer die boer se vermoë om broodnodige water aan gewasse te verskaf.

LEES OOK: Kommer oor traagheid om landelike veiligheidstrategie te implementeer

“Sake wat aangemeld word, word nie opgelos nie en polisiekantore op dié dorpe het 'n tekort aan voertuie en mannekrag om dié soort sake te ondersoek.

“Van Januarie 2022 tot Desember 2022 was daar 148 onopgeloste diefstalsake,” vertel Maritz.

Die party het 'n skrywe aan die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe, gerig. 

Maritz sê hulle eis in dié skrywe dat daar dringend met die stasiebevelvoerders van die onderskeie polisiekantore vergader word om die tekort aan mannekrag en voertuie op te los.

LEES OOK: Kimberley loop deur onder kabeldiefstal

“Die party het ook 'n versoek gerig aan die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, me. Florence Radzilani, om 'n oorsigbesoek vir die wetgewer se Portefeuljekomitee vir Veiligheid aan die betrokke polisiekantore te reël.

“Dit is belangrik dat wetgewerlede self die toedrag van sake bepaal. Dit is duidelik dat ingryping dringend nodig is by hierdie polisiekantore.”

Maritz beklemtoon dat hulle nie sal toekyk hoe voedselsekerheid bedreig word weens misdaad wat boere op hul knieë dwing nie.

Kabeldiefstal is ook 'n voortdurende kwessie in Sentraal-Suid-Afrika. Munisipaliteite is gereelde slagoffers hiervan, wat inwoners telke male in die duisternis gelaat het.

LEES OOK: Kommer dat hoenders nie geslag kan word indien fase 6 voortduur

Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis

Inwoners, wat landbouers insluit, ervaar boonop beurtkrag ook.

President Cyril Ramaphosa sal na verwagting Donderdag 9 Februarie sy staatsrede lewer en verwagtinge is dat die energiekrisis boaan sy lys gaan wees.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.