On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Passie, eerlikheid - belangrikste eienskappe van suksesvolle afslaer

───   ELSABÉ RICHARD 08:31 Mon, 26 Sep 2022

Passie, eerlikheid - belangrikste eienskappe van suksesvolle afslaer | News Article
André van Zyl (links agter). FOTO: Elsabé Richard-May/OFM-nuus.

Eerlikheid en 'n passie vir die lewendehawebedryf is twee van die belangrikste eienskappe wat elke afslaer moet besit.

‘n Afslaer moet ook nie net vinnig op sy voete kan dink nie, maar hy moet ook vinnig kan praat.

Sien onderstaande PODCAST

André van Zyl, ‘n afslaer van Vleissentraal Port Elizabeth/Kaap, is reeds van kleins af geïnteresseerd in die afslaer-beroep en het ‘n groot passie vir dit ontwikkel. 

Hy vertel hoe hy altyd saam met sy pa na die veilings toe gery het, en op pad terug huis toe, moes sy pa “vir my praat soos die oom op die veiling”.

LEES OOK: Dis belangrik om die regte afslaer te kies

Van Zyl is vanjaar al reeds 12 jaar in dié bedryf, waarvan hy die laaste tien jaar ook betrokke by stoetveeveilings is.

“Die kommersiële- en stoetveeveilings het elkeen sy hoogtepunte. Met die kommersiële veilings - wat meer slagdiere of stoorvee is - [dan] kom jy weer met ‘n heel ander groep kopers in aanraking, persone wat abattoirs besit en mense wat veevoerkralle besit.”

Advies vir voornemende afslaers

Behalwe vir die passie wat afslaers moet hê, raai Van Zyl voornemende afslaers aan om eers ‘n kursus by te woon om die nodige kennis oor die bedryf te bekom. 

“Daar is mense in Johannesburg en Pretoria wat ‘n kursus aanbied wat jou baie leer van die wette, want dit is belangrik.

“Onthou: the auctioneer rules the auction. So, jy moet weet wat om te doen en wat om te sê indien daar ‘n probleem opduik.

LEES OOK: Biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente noodsaaklik

“Ek glo as jy die nodige kennis het van die produk dan gaan jy baie goed weet waar om te begin, en indien dit ‘n geneties meerderwaardige stoetdier is waarvan daar ‘n moontlike nageslag is, dan het hy ‘n ander beginprys.”

Hy sê die afslaer moet ook in staat wees om ‘n veilingskatalogus te kan lees en die belangrike waardes vir die voornemende kopers te kan uitlig.

Advies vir produsente om die regte afslaer of afslaershuis te kies

Van Zyl het voorheen met OFM-nuus gedeel dat selfs produsente ‘n ingeligte besluit moet neem wanneer hulle van ‘n afslaer of afslaershuis gebruik wil maak.

Hy beklemtoon dat daar verskeie regulasies is waaraan voldoen moet word en produsente moet hul navorsing doen om die regte persoon te kies om sy diere te verkoop.

Volgens Van Zyl is die hoofdoel van ‘n afslaer en afslaershuis om ‘n geordende veiling aan te bied, sowel as ‘n omgewing te skep waar voornemende kopers en verkopers welkom voel en kan deelneem aan die proses van ‘n veiling.

Voordat ‘n produsent sy finale besluit neem ten opsigte van die afslaer of afslaershuis wat gebruik gaan word, is daar verskeie vrae of punte wat eers bespreek moet word. Van Zyl stel voor dat daar vooraf besluit word watter tipe veiling dit gaan wees, byvoorbeeld ‘n produksieveiling, stoetveiling of ‘n slagveiling.

Daar moet ook gekyk word na wanneer die veiling sal plaasvind, watter tyd van die jaar toepaslik sal wees en waar die veiling sal plaasvind, sowel as of dit aanlyn of in lewende lywe sal geskied.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.