On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Inspiration

Nuwe jaar: ‘Groot verandering begin met momentum, klein gewoontes’

───   KAREN VAN DER BERG 11:15 Fri, 10 Jan 2025

Nuwe jaar: ‘Groot verandering begin met momentum, klein gewoontes’ | News Article
Anja van Beek het ’n wenresep vir die nuwe jaar. Foto verskaf

“Vanjaar gaan ek minder eet, meer oefen, my slimfoon meer gereeld neersit en genoeg slaap inkry.”

As dit na jou nuwejaarsvoornemens klink wat reeds vroeg Januarie in die hek geduik het, kan dit wees omdat jy dit anders moet benader, meen Anja van Beek, ’n talentstrateeg en kenner van maatskappykultuur en leierskap.

Van Beek sê die begin van ’n nuwe jaar is ’n spesiale tyd. Dit is ’n oomblik van hoop en ambisie. Mense voel nog die opwinding en vernuwing wat die nuwe jaar inhou.

Dink anders oor voornemens

Om by jou voornemens te hou is wel nie so maklik nie. “Navorsing wys dit vir ons. Daarom is dit belangrik om ’n groot droom te vat en in kleiner stukkies op te deel.”

Dít kan gedoen word deur momentum op te bou. Die woord voornemens kan dikwels baie onbuigsaam klink en groot druk veroorsaak.

Benader nuwejaarsvoornemens anders as dit jaarliks reeds vroeg Januarie in die hek geduik het. Foto: Facebook

Sy sê pleks van indrukwekkende of perfekte voornemens ontwikkel, is dit raadsaam om liewer aan momentum te werk. “Groot veranderinge vind juis met klein gewoontes plaas.”

Momentum kan hupstoot gee

Volgens Van Beek lê momentum se krag daarin dat dit ’n mens deur die onvermydelike op- en afdraandes van die lewe kan dra.

“Elke klein oorwinning … gee ons ’n hupstoot. Elke klein oorwinning, maak nie saak hoe klein nie, is (’n treetjie) in die regte rigting.”

Van Beek sê wanneer ons iets bereik, skei ons brein ’n goedvoelhormoon af. “Hierdie hupstoot verbeter nie net ons bui nie, maar versterk ons motivering dat sukses moontlik is. Hierdie klein oorwinnings dien as trappies wat ons lei na groter doelwitte.”

Span hulpmiddels in

Dis ook belangrik om ’n plan te hê om die jaar aan te pak en hulpmiddels in te span, meen sy. Sekere van die hulpmiddels kan wees om iemand te kry wat jou tot verantwoording hou.

“Om iemand te hê wat die dinge saam met jou aanpak help om jou by jou doelstellings te hou en om jou te motiveer.”

Sy sê momentum is die groot verskil tussen sukses en gewoontes wat kan verander. “Dit kan ’n groot verskil in jou lewe maak en ook die oorsaak wees dat jy die res van die jaar meer aanpak soos wat jy dit aan die begin wou doen.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.