On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Inspiration

Ditsobotla-topmatrieks beloon met skootrekenaars

───   11:44 Sun, 26 Jan 2025

Ditsobotla-topmatrieks beloon met skootrekenaars | News Article
Ditsobotla se topmatrieks het elk ’n skootrekenaar van NWK ontvang. Foto verskaf

Die toppresterende matrikulante van 21 skole in die Ditsobotla-distrik is vereer en het elk ’n splinternuwe skootrekenaar ontvang, geskenk deur NWK. Die waarde van vanjaar se skenking beloop sowat R283 000.

Die slaagsyfer van matrieks in die Ditsobotla-distrik het met ’n merkwaardige 11% verbeter en staan nou op 88,66%. Hierdie prestasie is Donderdag (23/1) gevier tydens ’n spesiale erkenningsgeleentheid wat deur die Noordwes Departement van Onderwys aangebied is.

NWK, Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy, voer hierdie projek jaarliks uit sedert 2013/14 om voornemende tersiêre studente se studies te ondersteun.

Benedict Modise, NWK se direkteur van ekonomiese ontwikkeling, het die matrikulante gelukgewens en hulle geïnspireer om hul suksesse voort te sit. “Julle het bewys dat harde werk en toewyding resultate lewer. Julle het ’n hoë standaard gestel en inspireer toekomstige geslagte.”

Benedict Modise tydens die geleentheid. Foto: verskaf

Marilie Rossouw van Hoërskool Lichtenburg, die topmatrikulant in Ditsobotla, het agt onderskeidings behaal. Sy beskryf haar prestasie as die vrug van “baie harde werk en ure van toewyding.” Marilie beplan om B.Sc. Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit te studeer en het haar skootrekenaar as ’n spesiale beloning vir haar pogings beskryf.

Galaletsang Tsetse van Bophirima Secondary School in Itsoseng, wat vanjaar maatskaplike werk aan die Universiteit van Johannesburg gaan studeer, was oorstelp oor haar geskenk. “My ma is werkloos, en ons familie sou nie in staat gewees het om so iets te bekostig nie,” het sy gesê.

Matrikulante aangemoedig om drome te volg

Oarabile Realeboga van Gaetsho Secondary School in Lichtenburg beoog om verpleegkunde aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer en het ander matrikulante aangemoedig om hul drome te volg, ongeag struikelblokke.

Aobakwe Thuto Sebokolodi van Tau Rapulana Secondary School in Bodibe, wat aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit wil studeer, het sy dankbaarheid uitgespreek. “Dit is fantasties! Ek is baie dankbaar vir hierdie ondersteuning.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.