On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Inspiration

Ses planete op ’n streep – vier sigbaar met blote oog

───   11:47 Sat, 25 Jan 2025

Ses planete op ’n streep – vier sigbaar met blote oog | News Article
Vier plante is met die blote oog sigbaar en nog twee met ’n teleskoop.

Sentraal-Suid-Afrikaners kan hul oë die naweek ná donker hemelwaarts rig vir ’n sonderlinge skouspel wanneer vier helder planete op ’n streep sigbaar sal wees.

Prof. Matie Hoffman, sterrekundige, sê Venus is die eerste planeet wat kort ná sononder duidelik sigbaar is. “ ’n Mens kan hom nie miskyk nie. En wanneer dit nou nog so bietjie donkerder raak, nader aan 20:00, kan ’n mens naby ’n dowwer voorwerp maar nog helder in vergelyking met die meeste sterre sien.”

Dit is die planeet Saturnus, wat ’n week gelede baie nader aan Venus was, sê Hoffman. “ ’n Mens moet onthou die planete beweeg relatief teen die sterreagtergrond. Ons sien die planete op die voorgrond, maar ons kan nie die afstand sien nie.”

Hy verduidelik die planete en sterre verskil in ’n belangrike opsig al lyk hulle vir ons baie dieselfde. “Die planete is deel van die sonnestelsel en hulle beweeg in bane om die son. Venus is die tweede planeet van die son af. Hy’s in ’n vinnige baan.” Daarom kan ’n mens sien hoe hy snags deur die hemelruim beweeg.

Die fisikus prof. Matie Hoffman. Foto verskaf

Op die oomblik is die helderste voorwerp snags, naas die maan, die grootste planeet, Jupiter, wat noordoos hoog in die naghemel sigbaar is. “So daar het ons nou drie planete wat ons maklik vind en mens kan sommer sien hulle lyn nou mooi op,” sê Hoffman.

’n Bietjie later sal ’n mens laag in die ooste ’n helder rooierige voorwerp gewaar, die planeet Mars, wat op die oomblik in opposisie is. “Dit beteken hy is aan die teenoorgestelde kant van die aarde as die son.

“As ons nou die reguit lyn oor die sterrehemel vat … lyk dit maar vanaf die aarde of die planete nou in ’n reguit lyn is: Venus en Saturnus in die weste en dan Jupiter en Mars so bietjie meer na die ooste toe, en met Jupiter taamlik hoog.”

Selfs Uranus en Neptunus lê ook in daardie lyn, sê Hoffman, “maar hulle gaan die mense ongelukkig nie met die blote oog kan sien nie. Daarvoor het jy ’n teleskoop nodig.

Sterrekykers sal vier planete met die blote oog kan sien. Foto: Nasa

“Dit gee vir ons ses planete wat dan nou op die oomblik bo die horison is van vroegaand tot Venus so skuins ná 22:00 se kant baie laag (begin) beweeg. Die ander planeet wat nou so oor ’n maand sigbaar gaan wees, is Mercurius, die binne planeet.”

Hoffman verduidelik hy beweeg op die oomblik taamlik vinnig en sit bokant die westerkim wanneer die son opkom, wat dit te helder maak om hom te sien. “Maar oor so ’n maand gaan hy oorbeweeg in sy baan dat hy ook vroegaand sigbaar is. Dan het jy nou sewe planete.

Eers weer oor 467 jaar

“Die agtste planeet is die aarde,” sê Hoffman. “Ons kan hom nou nie daar bo sien nie, nè? Hy’s onder ons voete, maar ’n mens kan maar onthou: Ons kan hom ook sien. Ons moet net afkyk.

Hoffman sê kenners voorspel die volgende keer dat al agt planete in lyn gaan wees, is in Mei 2492. “So, in terme hiervan is dit nogal spesiaal om hulle darem nou almal gelyk bo die horison (te hê) … dan is dit nou nogal rêrig besonders.”

• Hoffman is dosent aan die Departement Fisika aan die Universiteit en die bestuurder van die Naval Hill-planetarium.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.