On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Inspiration

Kersfees se ‘wat’ belangriker as sy ‘hoe’ – pastoor

───   MORNÉ VAN ROOYEN 06:00 Fri, 20 Dec 2024

Kersfees se ‘wat’ belangriker as sy ‘hoe’ – pastoor | News Article
Foto ter illustrasie: Pixabay

Om te Kersfees of nie – dis ’n vraag wat ál meer mense laat kopkrap.

Deesdae is daar twee denkrigtings oor waarom Christene nie Kersfees behoort te vier nie. Enersyds meen party mense dis verkeerd om Kersfees te vier omdat dit ’n feesdag is wat mense uitgedink het en waarvan die Bybel nie melding maak nie.

Andersyds word geglo Kersfees is ’n paganistiese feesdag, of dan ten minste een met ’n paganistiese of heidense oorsprong. Toe die Christelike godsdiens in die vierde eeu tot staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk verhef is, het die kerkvaders 25 Desember, die geboortedag van die Persiese songod Mitras, as Christus se geboortedag gekies.

Maar in ons eeu is die viering van Kersfees ook tweeledig: Aan die een kant is dit ’n wêreldse viering wanneer kasregisters kreun soos mense, ongeag hul geloofsoortuiging, geskenke vir mekaar koop. Aan die anker kant vier kerke wêreldwyd die dag, in baie gevalle soos ’n soort Sondag.

Past. Neville Goodchild van Lewende Woord Bloemfontein en sy vrou, Elmarie. Foto: Facebook

“Wat vir my belangrik sal wees om te sê, is ek dink nie die kultuur is verkeerd nie,” sê past. Neville Goodchild van Lewende Woord Bloemfontein oor die gebruike soos die liedjies wat ’n mens oor die feestyd in winkels hoor, die vensteruitstallings en Kersvaders wat geskenke uitdeel.

“Ek dink kultuur kan geweldig baie waarde hê, en ek dink ’n klomp van wat ons van Kersfees sien vandag, is kultuur. Dis die sekulêre manier; dis deur generasies aan ons oorgedra. Ek dink hoe my pa- en my oupa-hulle en die voorgeslagte Kersfees gedoen het, het ’n groot effek op ons.”

Maar dis waar onderskeidingsvermoë nodig is, meen Goodchild. “Vir my as ’n gelowige, as Christen, is dit belangrik om te onderskei tussen wat sekulêr is en wat vir my belangrik is in terme van my Christenskap.”

Kersgeskenke is deel van die kultuur van Kersfees. Foto: Pixabay

Die sekulêre en die kommersiële deel van Kersfees is ’n werklikheid. “Dit is daar buite en dit is nie alles sleg nie. Wat vir my as kind van die Here baie belangrik is, is die deel van Kersfees wat met die kerk te doen het.”

Hy vertel die kerk oor die wêreld en die eeue heen het ’n ryk geskiedenis van Kersfeesvieringe, selfs vanaf die eerste eeue ná Christus af. “Daar is uit die aard van die saak kontroversie rondom datums, en ek dink nie enige kerk of geloofsgroep probeer voorgee dat iemand weet presies op watter datum spesifiek Jesus gebore is nie.

“Maar die kultuur wat ons geërf het, is dat die geboorte … van Jesus Christus rondom Desember gevier word,” sê hy, enkele dae ná die somersonstilstand in die Noordelike Halfrond. “Daar is ook ander feeste, sekulêre en selfs heidense feeste, wat gekoppel is aan daardie tydperk wat niks te doen het met Kersfees nie.”

Mense stuur al eeue lank vir mekaar Kerskaartjies. Foto: Pixabay

Goodchild vertel baie aannames word oor dié datums gemaak. “Ons sien op Facebook ook gereeld dat ouens sê, ons vier nie Kersfees nie, want dis ’n heidense fees. Dit is hoegenaamd nie waar nie. Daar is geen konneksie tussen die heidense feeste wat in dieselfde seisoen van die jaar plaasvind en Kersfees nie.”

Kersfees is ’n viering deur Christene van die koms van Christus, sê hy. Die dag het ’n kommersiële sy, maar wat vir hom belangrik is, is sy “persoonlike belewenis van my viering van … Jesus Christus se geboorte”.

Hy verwerp bewerings dat Kersfees net ’n geldmaakdag soos Moedersdag of Valentynsdag is. “Daar’s geen skrif in die Bybel wat sê dat ons moet Kersfees vier nie. Die woord ‘Kersfees’ is glad nie ’n Bybelse woord ook nie.

‘Alle mense se koms word gevier’

“Daar’s ook geen opdrag wat sê ons moet een of ander Christelike fees, soos ons met die Joodse feeste sien, of soos die moderne Christelike kerk nog steeds Paasfees vier. Daar’s geen opdrag dat ons die koms van Jesus Christus op so ’n manier moet vier nie.”

Maar daar is ook geen reël of Bybelse voorskrif wat Kersvieringe verbied nie, sê Goodchild. “Ek dink dis ’n fantastiese instelling in die kerk. Dit sou vir my baie vreemd wees as ons al die werk vier wat Christus vir ons gedoen het, maar nie sy koms nie.

Hy meen dit sal amper wees soos om ’n kind se sukses, groei en vordering te vier, maar weier om sy geboorte te vier. “Alle mense se koms word gevier, geboortes word gevier, want … daardeur gee ons erkenning aan daardie lewe, maar almal se werk word nie gevier nie.

Kersversierings in winkels en mense se huis is dikwels sekulêr. Foto: Pixabay

“Ons weet almal se lewe is nie noodwendig suksesvol in sekulêre terme nie, maar almal se koms word gevier. Dit maak nie saak wie ek is en wat ek aangevang het nie, my verjaarsdag bly iets wat my lewe erken.”

Selfs al is iemand se presiese geboortedag onbekend, is die viering van sy geboortedag “’n erkenning dat hy bestaan”. Om te weier om iemand na aan jou se verjaardag te vier, is amper ’n belediging, meen Goodchild.

“Dit is ’n miskenning van my bestaan, my teenwoordigheid, my deel wees van wat ons hier beleef. So, ek dink dis ’n baie basiese ding.”

Na sy mening vier Christene nie Kersfees omdat 25 Desember die “regte” datum is nie. “Ek dink Christene vier Kersfees, omdat die koms van die Redder van hierdie wêreld waaragtig ’n noemenswaardige oomblik was, die hoogtepunt van hierdie wêreld se verwagting.”

Simbole nie ’n sonde nie

Hy vertel ’n groot deel van Kersfees is kultuur. Tydens Lewende Woord se onlangs Kerssangdiens was “daar ’n klomp simbole in ons kerk gewees wat nie noodwendig Bybelse simbole is nie, maar ons is mense. En ek dink ons moet mens bly voor die Here.

“Vir ons om een of ander simbool te hê, of in ons huise te hê, of deel van ons Kersvieringe te maak wat nie noodwendig in die Bybel staan nie, is hoegenaamd nie ’n sonde nie. Ek dink dis deel van menswees, maar vir my is dit ’n persoonlike saak.”

Die belangrikste van Kersfees is nie “die hoe” nie; dis “die wat” – die erkenning van die geboorte van die Redder van die hele wêreld, verduidelik Goodchild. “En dit is geweldig groot. Vir my lê die kruks daarso.”

’Groter as dit’

Natuurlik gaan Kersfees gepaard met “kommersiële goed”, wat niks met die Verlosser se koms te doen het nie, sê hy, “kan nie as kind van die Here sê omdat iemand wat nie verstaan nie, daaruit geld maak, of omdat iemand wat nie verstaan nie, ook presente koop, weier ek om dit te vier nie.

“Dit sal ’n baie vreemde gedagtelyn wees. Ek dink ons is groter as dit, en ek dink ons is langer hier rond. Ons weet alles gebeur nie volgens ons voorkeure nie. Dis ’n persoonlike saak. 

“My verhouding met Jesus Christus is die kruks van wat hier gevier word.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.