Inspiration
Vereniging vir Blindes in Vrystaat afhanklik van gemeenskap vir voortbestaan─── KAYLA BARKER 09:00 Wed, 29 Jan 2025
Die Vereniging vir Blindes is die enigste organisasie in en om Bloemfontein wat dienste lewer aan swaksiendes en blindes en is in 1929 gestig.
Marianne Kruger sluit by Yolanda Maartens aan om te gesels oor hul dienste en behoeftes.
Ná twintig jaar se diens by die Vereniging van Blindes in die Vrystaat, het Kruger einde 2024 afgetree maar steeds bedien sy die gemeenskap van die Vrystaat. Haar passie vir die werk wat hulle oor die streek heen doen, kan selfs ná twee dekades nie geblus word nie.
Die vereniging lewer dienste aan individue wat swak sig het of wat heeltemal blind is en staan kinders by, so jonk as drie jaar oud.
Marianne Kruger vertel dat die organisasie afhanklilk van die gemeenskap is om hul voortbestaan te verseker.
Die vereniging staan ook kinders by, van so jonk as drie jaar oud. Foto verskaf
Hulle hou ’n fondsinsameling op 8 Maart, in samewerking met Orangia Rolbalklub in Bloemfontein, om geld in te samel vir die organisasie. Kruger vertel as die organisasie sy deure moet sluit weens ’n tekort aan finansies, sal dit baie tragies wees. Dus vra hulle dat mense die fondsinsameling sal ondersteun om hulle aan die lewe te hou en te probeer verhoed dat hul deure sluit.
Hierdie fondsinsameling behels ’n dag vol rolbalpret. Rolbal is ’n lekker aktiwiteit vir die hele gesin en boonop is dit vir ’n goeie doel!
Die vereniging lewer dienste aan individue wat swak sig het of wat heeltemal blind is. Foto verskaf
Die fondsinsameling vind plaas by die Orangia-rolbalklub, by Att Horakstraat 8 in Bloemfontein. Dit begin om 07:30 vir 08:00. Om in te skryf is daar ’n inskrywingsfooi van R2000 vir ’n span van vier spelers.
Daar is lekker kontantpryse op die spel, sowel as lootjies wat verkoop word vir twee blesbokke.
Vir meer inligting, kontak Marianne Kruger by fsblind@gmail.com of Ronel Swart by 082 562 2445. Besoek hulle ook op Facebook: https://www.facebook.com/blindfs/