Inspiration
Weird Wide Web - Kansel ‘trek’ van kerk na kameeldoringboom─── 15:05 Fri, 21 Apr 2023
![Weird Wide Web - Kansel ‘trek’ van kerk na kameeldoringboom Weird Wide Web - Kansel ‘trek’ van kerk na kameeldoringboom | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/a42a1798-0cd2-4b48-8555-65cab8d9c7cd.jpg?crop=0,75,800,525)
H.A. du Plessis het vir ons die mooi verhaal van ’n preekstoel se nuwe lewe op ’n Bosveldplaas gestuur.
Hy, sy pa, Andries, en Moses, een van hul werkers, het die preekstoel in 2017 uit die ou Gereformeerde kerk in Vereeniging gehaal. Die nuwe gemeente wou nie meer die kansel in die kerk hê nie.
Tot Maart vanjaar het dit op ’n wa op Andries se plaas gestaan, tot H.A. se broer, Corné, sy werkers van Lephalale gebring het, en hulle die preekstoel onder Moses se leiding onder ’n kameeldoringboom opgerig het.
H.A. sê hy en sy vrou, Surina, is op 20 Maart voor die preekstoel getroud toe sy swaer Danie Strydom en tannie Adri van Aswegen Jansen van Vuuren die huweliksbevestiging hanteer het.
Rineke Viljoen het die klavier bespeel.
Lees ook: Weird Wide Web - Carpenters se musiek het ‘mediese voordele’
“Ek is dankbaar teenoor die Here dat ons die preekstoel kon koop, asook vir my pa, Corné, Moses en elke persoon wat gehelp het om die preekstoel op te rig,” vertel hy.
“Voor dié einste preekstoel is ek en my broer, my oorlede ma, Bettie (neé Van Aswegen), oom Johan van Aswegen en tannie Adri van Aswegen Janse Van Vuuren gedoop, het ons belydenis van geloof afgelê, en is my ouers getroud.”
Hy sê daar was met die jare ook hartseer oomblikke toe sy oupa Hendrik en ouma Adriana van Aswegen en sy ma se begrafnisdienste vanaf dié kansel gelei is.