Central SA
Mensehandel in Bloemfontein: Minderjarige ook betrek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:28 Fri, 28 Feb 2025

Die name van vier vermeende mensehandelaars van Bloemfontein kan nie bekendgemaak word nie, omdat hulle ook ondersoek word vir ’n saak waarby ’n minderjarige blykbaar betrokke is.
Die viertal (20 tot 40) het Woensdag (26/2) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn toe borgtog van R500 elk toegestaan is, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hulle moet weer op 26 Maart voorkom.
Die verdagtes is Dinsdag (25/2) in die Bloemfonteinse woonbuurt Baysvalley in hegtenis geneem op aanklag van mensehandel. Hulle staan ook tereg op bykomende aanklagte, insluitend die onwettige besit van dwelms, ’n SANW-uniform, vuurwapens en ammunisie.
‘Dwelms ingegee en gedwing om seksuele dade te verrig’
“Beamptes van die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het opgetree op grond van inligting oor ’n mensehandelsaak by ’n huis in Olympusrylaan,” sê Mohobeleli.
’n Bloemfonteinse vrou (39) is na bewering deur ’n vrou na die huis gelok met beloftes van ’n beter lewe. Met haar aankoms by die huis, het die werwer haar betaling ontvang, en die slagoffer het kos en klere gekoop.
“Dinge het skeefgeloop toe sy dwelms ingegee is, gedwing is om seksuele dade te verrig en die huis skoon te maak.”
‘Veral vroue en kinders is kwesbaar vir handelaars wat hul desperaatheid uitbuit’
Mensehandel is ’n ernstige kwessie in Suid-Afrika, aangevuur deur verskeie verwante faktore. Volgens die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing maak die land se uitgestrekte en swak bewaakte grense dit ’n vername teiken vir handelaars en slagoffers, wat Suid-Afrika ’n kernpunt van binnelandse sowel as oorgrens-mensehandel maak.
Hoë werkloosheid, armoede en ongelykheid maak baie mense – veral vroue en kinders – kwesbaar vir handelaars wat hul desperaatheid uitbuit met leë beloftes van werk en beter lewensomstandighede.
Gedurende die derde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar is 4 748 gevalle van ontvoering landwyd aangemeld, gelykstaande aan meer as 50 per dag. In die Vrystaat het die getal gevalle jaar-op-jaar afgeneem, van 210 tot 183; in die Noord-Kaap het die syfer gedaal van 53 tot 43.
‘Oorgrote meerderheid van ontvoerings word ’n vir losprys gepleeg’
Die aantal ontvoeringsake in Noordwes het egter onveranderd op 206 gebly.
Gauteng het die hoogste aantal ontvoerings aangemeld, met 2 499 sake – 132 meer as die vorige jaar, wat meer as die helfte van die totale sake landwyd uitmaak. Van die 30 polisiekantore met die hoogste koerse van ontvoering, is 26 in Gauteng, terwyl die oorblywende vier in KwaZulu-Natal is.
Die jongste misdaadsyfers dui daarop dat die oorgrote meerderheid van ontvoerings vir ’n losprys gepleeg word, gevolg deur afpersing, met mensehandel wat die derde plek beklee. In die meeste gevalle maak die polisie nie die motiewe agter die ontvoerings in hul statistiek bekend nie.