On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Man kry 7 jaar vir motordiefstal op Upington

───   MORNÉ VAN ROOYEN 10:32 Fri, 28 Feb 2025

Man kry 7 jaar vir motordiefstal op Upington | News Article
Ao. Nicolaas van Zyl van Upington se ondersoekeenheid vir voertuigmisdade. Foto verskaf

’n Polisiebeampte van Upington word geloof vir sy uitstekende ondersoekwerk, wat verseker het dat ’n voertuigdief gevonnis word.

Die polisiebestuur van die ZF Mgcawu-distrik loof ao. Nicolaas van Zyl van Upington se ondersoekeenheid vir voertuigmisdade nadat Anthony Rees (39) tronkstraf opgelê is.

’n Klagte van voertuigdiefstal is einde 2022 op Upington aanhangig gemaak in verband met ’n Toyota Land Cruiser ter waarde van R400 000, sê sers. Omphile Masegela, distrikspolisiewoordvoerder. Rees het die voertuig by ’n verhuringsagentskap gehuur, maar dit nie terugbesorg nie.

Van Zyl het alle leidrade opgevolg en vasgestel dat die 39-jarige met die voertuig na Botswana gereis het, maar daarsonder teruggekeer het na Suid-Afrika. ’n Lasbrief vir Rees se inhegtenisneming is uitgereik en die polisie en publiek is gevra om hom te help opspoor.

Die Toyota Land Cruiser is in Zimbabwe opgespoor. Foto ter illustrasie: Toyota SA

Deur die loop van 2023 is Van Zyl ingelig dat die verdagte in Pretoria vir ’n ander misdaad aangekeer is, sê Masagela. Hy is later oorgeplaas na die gevangenis op Upington en aangekla van motordiefstal.

Dinsdag is hy gevonnis tot sewe jaar tronkstraf vir dié misdaad. Hy sal dit gelyklopend uitdien met die sewe jaar gevangenisstraf wat hy opgelê is vir motordiefstal in Pretoria en wat hy reeds begin uitdien het.

Die gesteelde voertuig van Upington is teruggevind in Zimbabwe en sal teruggebring word om aan sy eienaar oorhandig te word.

Minder motors gesteel

Altesaam 7 791 motors en motorfietse is in die derde kwartaal van die polisie se 2024/205-boekjaar landwyd gesteel, ’n jaar-op-jaar-afname van 1 748 gevalle. Dié misdaad het in al die provinsies afgeneem, behalwe die Vrystaat, waar ’n toename van tien tot 176 gevalle aangemeld is.

In die Noord-Kaap is van Oktober tot Desember verlede jaar 28 van dié voertuie gesteel, nege minder as in dieselfde tydperk in 2023. Gauteng bly die motordiefstalhoofstad van Suid-Afrika. Hoewel dié misdaad van 5 079 tot 3 955 gevalle afgeneem het, is dit steeds meer as die helfte van al nege provinsies.

Diefstal uit voertuie het ook in die derde kwartaal skerp afgeneem: van 22 288 gevalle in 2023 tot 19 409 in 2024. In al die provinsies is afnames aangemeld, waarvan die grootse in die Noord-Kaap (21,4%), Wes-Kaap (17,4%) en Vrystaat (15,8%) was.

OFM Nuus/Morné van Rooyen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.