Central SA
Onderwyser van Potchefstroom dankbaar hy oorleef honderde bysteke─── KAREN VAN DER BERG 13:01 Fri, 28 Feb 2025

Hy is nie meer Jaco Mey nie, maar Jaco By.
So word nou skertsend verwys na ’n onderwyser van Potchefstroom wat onlangs meer as 250 keer deur ’n swerm bye gesteek.
Maar op ’n ernstige noot is hy ontsettend dankbaar om te leef, sê Mey. As hy allergies vir bye was, was hy dalk nie vandag hier om dié storie te vertel nie.
Dié Engelsonderwyser van die Laerskool President Pretorius het op 8 Februarie sy gebruiklike 70 km-oefensessie op sy fiets afgelê. “Ek ry die roete gereeld en was amper klaar, toe ek sien daar sit ’n by op my arm en hy steek my.”
Jaco Mey is gelukkig om te lewe nadat hy meer as 250 keer deur ’n swerm gesteek is. Foto verskaf
Die volgende oomblik het hy geweet hier kom moeilikheid toe hy ’n verskriklike gezoem agter hom hoor. Een ná die ander by het hom begin steek.
“Dit was belangrik vir my om kalm te bly. Ek het iewers gelees ’n mens moet kalm bly. Maar ál meer bye het my gesteek so ver soos wat ek gery het.”
Mey sê hy het hulle probeer wegklap, maar hulle was net te veel. “Ek het iewers net op my knieë afgesak en die gedagte dat ek nou aan my einde gekom het, het deur my gedagtes geflits.”
Gelukkig het Tim Flemming met sy gesin in ’n bakkie stilgehou. Dié weldoener het vir Mey gesê om agterop te spring sodat hy met hom kon wegjaag in ’n poging om die bye af te skud. Hulle het die fiets net daar langs die pad gelos en weggejaag.
“Die plan het gewerk. Toe hy sien die bye is van my af, het hy stilgehou en die wat nog daar was, van my afgeslaan. Hy het toe met my ongevalle toe gejaag.”
Mey sê eers in die hospitaal het hy gesien sy hele liggaam was oortrek van die bysteke. Hy is met adrenalien behandel en die verpleegpersoneel het hom gehelp om al die angels uit te trek. ’n Verpleegsuster het alleen meer as 100 angels uitgehaal.
Jaco Mey se fietsryhandskoen aan die buitekant is vol angels. Hy sê dieselfde hoeveelheid angels was binne in sy hande. Foto verskaf
Dat hy oorleef het, was nie die enigste wonderwerk nie. Hy het ook danksy nog ’n barmhartige samaritaan sy fiets teruggekry, want ’n plaaslike boer het die fiets opgelaai en gebêre. Hy kon dit aan Mey terugbesorg danksy ’n plasing op Facebook waarin Mey gevra het of iemand sy fiets gewaar het.
Mey sê hy is verstom en dankbaar oor die mense wat hom bygestaan het. “En hoewel ons almal nou bietjie hieroor spot, weet ek hoe gelukkig ek kan wees om te lewe.”
Op die oomblik is hy nie bang dat ’n swerm bye hom weer sal toetakel nie. “Ek hoop dit is maar soos weerlig wat nie meer as een keer op dieselfde plek slaan nie.”
Hy het steeds angels in sy lyf, en elke nou en dan moet sy vrou nog een uithaal. Sommige is nog baie pynlik.
“Maar ek is net bly om hier te wees en so dankbaar oor die hulp van Tim en die boer, wat my fiets veilig gehou het. Die boer het ná die tyd vertel die bye was nog ’n hele rukkie ná my aanval in die omgewing en baie aggressief. Hy het op die toneel gebly en mense gewaarsku.”
Volgens Mey wys dit net weer watter opregte en goeie mense in Potchefstroom woon.