Central SA
Vrystater gesoek wat glo vrou verkrag, klere steel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:16 Fri, 28 Feb 2025

Ficksburg-polisie vra inwoners moet help soek na ’n verdagte, wat glo ’n jong vrou verkrag, met ’n mes gedreig en haar klere gesteel het.
Die polisie het ’n skets uitgereik wat gegrond is op die slagoffer (22) se beskrywing van die vermeende aanvaller.
Die slagoffer het glo op 21 Desember omstreeks 20:00 in Sone 7 van die township Meqheleng na ’n vriend se huis gestap toe sy die verdagte langs die pad teëkom, sê ao. Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hulle het saam verder gestap omdat hulle in dieselfde rigting op pad was.
‘Ongeveer 1,8 m lank en vermoedelik tussen 25 en 30 jaar oud’
Volgens Kareli het die verdagte glo ewe skielik die slagoffer gegryp, haar na ’n bousel gesleep wat deur straatverkopers gebruik word, en haar met ’n mes gedreig terwyl hy haar verkrag het. Die slagoffer het ’n verkragtingsklag by die plaaslike polisiekantoor aanhangig gemaak.
Die verdagte word beskryf as ongeveer 1,8 m lank en vermoedelik tussen 25 en 30 jaar oud. Hy is Sothosprekend. Hy het ’n blou denimbroek en ’n vlootblou T-hemp aangehad.
Enigiemand met inligting kan speurder Moipone Pela by 065 851 1255 nader.
OFM Nuus mvh