On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

45ste Bieliemieliefees hierdie naweek op Reitz

───   ELZETTE BOUCHER 12:33 Fri, 28 Feb 2025

45ste Bieliemieliefees hierdie naweek op Reitz | News Article
Organiseerder Annalea van Niekerk by die Bieliemieliefees. Foto: OFM

Reitz is hierdie naweek ’n miernes van bedrywighede met die 45ste VKB-Bieliemieliefees wat by die skougronde aangebied word.

Neil de Klerk, VKB-groep se hoof van bemarking en kommunikasie beklemtoon die belangrike rol wat die boere van die streek speel in die sukses van die fees. 

“Die Biemieliefees het sowat 45 jaar gelede as ’n piekniek begin en het oor die jare gegroei tot die groot gemeenskapsfees wat dit vandag is.”

Volgens De Klerk het die fees ’n beduidende ekonomiese impak op die streek. “Dit is ’n groot ekonomiese inspuiting vir die area, aangesien baie mense van regoor die land die geleentheid benut om in die Oos-Vrystaat te kom kuier.”

Die fees bied iets vir almal – van landbou-entoesiaste tot gesinne wat op soek is na vermaak. “Ons kliënte is opgewonde oor die nuutste landbou-toerusting en -tegnologie wat uitgestal word. Benewens die landbou-aspek is daar ook ’n verskeidenheid vee- en perdskoue, proewe om kennis oor landbou te deel, en ’n lang lys van van die land se bekendste kunstenaars wat optree.”

Brendan Jacobs, hoof van Standard Bank landboubesigheid, meen die fees is nie net ’n viering van landbou nie, maar ook ’n platform om die bedryf te ondersteun en te bevorder. 

“Dis altyd lekker om in die buitelug te wees en om met die gemeenskap en landbouers te gesels. Vir die boere en mense in die landbousektor is dit belangrik om die verskeidenheid uitstallings te ervaar en te leer.”

Jacobs bedank VKB vir hul rol in die gemeenskap en by die fees. “Dis ’n voorreg om deel te wees van so ’n geleentheid wat nie net landbou bevorder nie, maar ook mense van regoor die land bymekaar bring.”

Vrydagaand kan besoekers uitsien na van Suid-Afrika se top talent op die verhoog soos Robbie Wessels, BlackByrd, Brendan Peyer, en Riaan Benadé. Saterdag is Chris Steyn, Ruhan du Toit, Ivan Roux, en Jan Rhaap aan die beurt. DJ Crazy sluit elke aan af met lekker dansmusiek. 

Sondag word die fees met ’n dankseggingsdiens deur die AGS Kerk Reitz afgesluit.

Naweekverrigtinge

Saterdag begin die aksie reeds vroeg met Bieliemielie-marathon laat inskrywings om 04:30. Die verskillende wedlope begin tussen 06:00 en 08:00 en die bergfietswedren om 07:00. Bulletjierugby en mininetbal is ook 07:00 tot 13:00 by die Nashua-arena. Die veestalle, pretpark en kuiertuin open om 10:00.

Daar is ook perdry-vertoning 13:00 – 15:00 en beeste-uitstalling-beoordeling om 14:00. Boeresport en sterkmankompetisie vind ook 15:00 plaas. 

Die gewilde woldrakompetisie begin 17:00 en die prysuitdeling van die al die aktiwiteit om 18:00.

Die fees bied vanjaar ook weer ’n propvol landbouprogram, en besoekers kan uitsien na ’n  indrukwekkende bees- en skaapprogram. 

“Hierdie jaar het ons vir die eerste keer – wel, hulle was verlede jaar ook hier – maar hierdie jaar is dit nog groter. Ons het die Simbra Jongbulskou, en dit vind Saterdag om nege-uur plaas,” verduidelik organiseerder Annalea van Niekerk.

Ses-en-vyftig jong bulletjies sal in die skouring meeding, en volgens Van Niekerk beloof dit om ’n groot en opwindende kompetisie te wees.

‘Groot pryse op die spel’

Besoekers kan ook tien verskillende beesrasse in die uitstalafdeling te sien kry. ’n Hoogtepunt van die beesprogram is die gewilde skat-’n-bul-se-gewig-kompetisie. 

“Elke jaar is mense vreeslik entoesiasties hieroor,” sê Van Niekerk. Vanjaar moet besoekers die gewig van 'n Boran-bul skat, en daar is groot pryse op die spel vir dié wat naaste aan die regte gewig raai.

Die VKB-Biemieliefees is nie net ’n viering van landbou nie, maar ook ’n geleentheid om nader aan die plaaslewe te kom. Besoekers word uitgenooi om die pragtige diere te besigtig, deel te neem aan die kompetisies en moontlik met ’n wenprys huis toe te gaan.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.