Central SA
Wêreld gons oor Potchefstroomse matrieks wat voete was─── KAREN VAN DER BERG 15:11 Tue, 04 Feb 2025
’n Video waarin matrieks van Potchefstroom Gimnasium die nuwe gr. 8’s se voete was, maak opslae.
Die video, wat op die skool se Facebook en Instagram gedeel is, is reeds meer as 1,8 miljoen keer gekyk.
Van die kommentaar op die video, beskryf dié gebaar as “rou” en “emosioneel”.
Matrikulante van Potchefstroom Gimnasium verwelkom die nuwe gr. 8-leerders. Foto: Potchefstroom Gimnasium
Skoolhoof Willie van der Merwe sê dit maak hom so trots om die video te sien en die reaksie wat dit uitgelok het. “Dit dra ons boodskap uit dat leiers ook moet kan dien.”
Van der Merwe sê die voetewasgeleentheid het in Januarie plaasgevind tydens ’n naweek wat hulle noem ‘Gimmie-word-naweek.’
“Die matrikulante van verlede jaar het hiermee begin. Vanjaar se matriekgroep het dit voortgesit.”
Hy sê mense is so aangeraak om die beeldmateriaal te sien van die matrieks wat afbuig en sagkens met die nuwe leerders werk en hulle almal se voete was.
Matrikulante van Potchefstroom Gimnasium het die nuwe gr. 8-leerders verwelkom deur hulle voete te was. Foto: Potchefstroom Gimnasium
“Ek dink die rede waarom dit so wyd gedeel is, is omdat mense gereed is vir verandering en vernuwing. In vorige jare en dekades het ontgroening met afbreek en vernedering gepaardgegaan.
“Dit is iets totaal anders dié. Die gebaar sê: Kom ons bou mekaar eerder op en dien mekaar.”
Hy sê wanneer matrikulante afbuk en die nuwe groentjies se voete was, wys dit ook niemand is meer spesiaal as iemand anders nie.
Suid-Afrikaners op voetsoolvlak gee werklik vir mekaar om, voeg Van der Merwe by. “Die meeste mense smag daarna om saam te staan en mekaar te help en om nie polities teen mekaar afgespeel te word nie.”
Matrikulante van Potchefstroom Gimnasium besig om die nuwe gr. 8-leerders se voete te was. Foto: Potchefstroom Gimnasium
Persoonlik is dit vir hom ’n riem onder die hart dat soveel mense wêreldwyd deur die skool se optrede aangeraak word.
“Ek is veral trots daarop dat die nuwe tradisie die idee van kinders was. Dit het van niemand anders af gekom nie.”
Hy glo die leerders ondersteun die skool se strewe. “Ek haal my hoed vir die matrikulante af. Hulle gee vir ons hoop.”
Die reaksie was “wonderlik” en hy glo die tradisie sal nog lank voortleef.
Foto: Potchefstroom Gimnasium
Hoewel die voetewas ook ’n Bybelse inslag het, strek dit veel wyer. “Dit wys vir ons kinders en ons samelewing ons is diensbaar. Ons is daar vir mekaar en vir ander.
“Ons kan almal help om ’n omgewing te skep waarin ander ook kan floreer.”