On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

‘Noord-Kaapse gesondheid dobbel met gestremdes se lewe’ – VF Plus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:57 Tue, 04 Feb 2025

‘Noord-Kaapse gesondheid dobbel met gestremdes se lewe’ – VF Plus | News Article
Helen Bishop Huis in Kimberley. Foto: Facebook

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid word versoek om aanspreeklikheid te aanvaar vir sy nalatigheid in die versorging van ’n tehuis vir gestremde kinders.

Die voortbestaan van Helen Bishop, ’n ortopediese huis vir gestremde kinders in Kimberley, hang in die weegskaal weens chroniese onderbefondsing, waarsku Theo Joubert, VF Plus-wetgewerlid. 

“Die huis is in ’n kritieke toestand,” sê Joubert ná ’n oorsigbesoek daaraan, “en die Noord-Kaapse departement van gesondheid se versuim om voldoende befondsing te verskaf, plaas hierdie kinders se lewe in gevaar.”

Helen Bishop Huis. Foto: Facebook

Helen Bishop, wat sedert 1950 noodsaaklike sorg aan van die samelewing se kwesbaarste kinders bied, huisves 61 kinders met ernstige gestremdhede, insluitend serebrale gestremdheid en spina bifida, wat 24 uur per dag mediese sorg verg.

Volgens Joubert word die huis se vermoë om in hul behoeftes te voorsien ernstig benadeel deur ’n tekort van R150 000 per maand.

Chroniese onderbefondsing

Rodger Adams, voorsitter van die huis se direksie, sê hulle trek nie net noustrop weens die begrotingstekort nie, maar ook kwessies soos vertraagde betalings, gebrek aan behoorlike toesig en swak kommunikasie van die departement. 

“Die tussentydse kontrak … het nie daarin geslaag om die salarisse van noodsaaklike mediese personeel te dek nie, wat die reeds haglike situasie vererger.”

Joubert sê die departement se nalatigheid is niks minder as roekeloos nie. “Ons het aan die LUR vir gesondheid, Maruping Lekwene, en die hoof van die provinsiale departement, Mxolisi Mlatha, geskryf en eis verantwoordelikheid vir hul optrede – of gebrek daaraan.”

Druk op regering

Die departement het ’n grondwetlike plig om voldoende mediese sorg te verseker, veral vir gestremde kinders. As die krisis nie dadelik aandag kry nie, kan dit lei tot ’n tragedie soos die Life Esidimeni-ramp in Gauteng, maan hy.

Die VF Plus belowe om druk op die provinsiale regering vol te hou totdat voldoende befondsing verseker is. “Ons sal nie (toekyk) terwyl daar met die lewens van hierdie kwesbare kinders gedobbel word nie,” sê Joubert.

OFM Nuus het die departement om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.