Central SA
Bloemfonteinse vrou dien aanrandingsklagte in teen Heidedal-polisie─── ZENANDE MPAME 15:27 Tue, 04 Feb 2025
Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ’n saak teen twee vroulike polisiebeamptes van polisiekantoor in Heidedal, Bloemfontein, nadat ’n vrou ’n aanrandingsklagte teen hulle ingedien het.
Sy beweer sy is deur twee polisielede aangerand toe sy na die polisiekantoor gegaan het om haar lewensmaat se verbale mishandeling aan te meld.
“Ons kan bevestig ’n aanrandingsaak word ondersoek teen twee vroulike beamptes van die Heidedal-polisiekantoor,” sê Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder. “Die voorval is by Opod aangemeld en stappe word gedoen om die saak te ondersoek.”
Steffnie Booysen het op Sondag 19 Januarie die polisiekantoor besoek en gevra dat die polisie haar help, maar ’n rusie het tussen haar en die polisiebeamptes ontstaan, wat glo tot die aanranding gelei het.
“Ek is getraumatiseer nadat ek verskeie kere deur die polisievroue in die polisiekantoor geslaan is. Hulle het my geskop en op my getrap terwyl ek in boeie was,” beweer Booysen.
“Ek het hulle herhaaldelik gevra hoekom hulle my aanval, want ek was daar om hulp te vra. Ek het vir hulle gesê ek gaan ’n saak teen hulle maak omdat hulle veronderstel was om my te help.
“Ek het aan een van die polisievroue vasgehou, en toe het ons gestoei tot hulle my uit die polisiekantoor uitgegooi het.”
Inwoners eis onmiddellike ontslag
Booysen beweer een van die polisievroue het haar meermale in die rug geskop. Sy sê sy ervaar nou ernstige pyn en sukkel om dinge op haar eie te doen.
Inwoners is verbaas oor die beweerde optrede van die beamptes en eis dat hulle summier ontslaan word.
Intussen verwelkom die DA die Opod-ondersoek, maar eis dringende optrede om Suid-Afrikaners se vertroue in die polisie te herstel. Die party gaan sy parlementêre woordvoerder oor polisie vra om ’n oorsigbesoek aan die polisiekantoor te bring.
Beeldmateriaal oor die voorval het inwoners tereg ontstel, sê Attie Terblanche, Mangaung-DA-raadslid, en “laat ernstige vrae ontstaan oor die integriteit van polisiebeamptes, wat veronderstel is om die publiek te beskerm en die reg te handhaaf. Polisiekantore behoort veiligheid te bied, maar hierdie voorval het die vertroue in wetstoepassing verder ondermyn.”
Terblanche sê dis nie die eerste klagte oor Heidedal se polisiekantoor nie. Inwoners kla die kantoor is gereeld gesluit tydens nagskof, beamptes kan nie op noodsituasies reageer nie weens ’n tekort aan voertuie en die dienslewering is oor die algemeen onbevredigend.
“Die DA verwelkom die deurlopende ondersoek deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat en ander interne ondersoeke. Blote ondersoeke is egter nie genoeg nie; beslissende optrede is nodig om verantwoordelikes aanspreeklik te hou en openbare vertrou in die polisiediens te herstel.”