On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Inwoners van Westdene bevrees oor verdagte in buurt

───   KAREN VAN DER BERG 15:53 Tue, 04 Feb 2025

Inwoners van Westdene bevrees oor verdagte in buurt | News Article
Inwoners moenie die verdagte nader nie, maar die polisiekantoor bel.

Inwoners van die Bloemfonteinse voorstad Westdene leef in vrees omdat hulle vermoed ’n gevaarlike jong man is steeds op vrye voet in hul omgewing.

Hulle verdink hom van die wrede aanval op Nancy Bialowons (86), wat op Kersdag gewurg is tot sy haar bewussyn verloor het. Bure het eers die volgende dag op haar afgekom nadat bekommerde familielede haar nie in die hande kon kry nie.

Dié geliefde inwoner van die Rosestad was jare lank krurator van die Ou Presidensie-museum. Sy is tot onlangs in ’n rehabilitasiesentrum behandel ná die aanvaal waarin sy bitter seer gekry en haar tweede nekwerwel gebreek is.

’n Bekommerde inwoner, wat uit vrees vir vergelding anoniem wil bly, sê hulle is ’n klompie inwoners wat vermoed die man wat vir die aanval verantwoordelik is, kom en gaan steeds nes hy wil.

Die geliefde Nancy Bialowons. Foto verskaf

“Die beskrywing wat tannie Nancy gegee het, pas perfek by die beskrywing van die man wat ons gereeld hier sien,” sê sy. Die man loop gereeld in die straat waarin die aanval plaasgevind het en vertoef voor die huis.

“Hy dra ’n sweetpaktop met ’n kappie en ’n wye broek,” vertel sy, wat pas by die beskrywing van die bejaarde se aanvaller.

“Dit was ’n gru-aanval op ’n geliefde persoon. Terwyl sy aansterk en herstel, is die wete dat die verdagte op vrye voet is, baie skrikwekkend. Dit maak ons bang, en ons sluit ons agter slot en grendel toe uit vrees dat die verdagte weer kan toeslaan.”

Verskerpte patrollies vir Westdene gereël

Hulle het hom Maandagoggend (3/2) weer gewaar.

Die familie sê dit is steeds ’n lang pad na herstel, maar dit gaan onder omstandighede goed met Bialowons. Sy sal nie na haar huis terugkeer nie. Sy sterk by familie aan, waarna sy na ’n aftreeoord verhuis.

’n Saak is geopen, sê kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag. Parkweg-polisiekantoor se speurhoof lei die ondersoek. Inwoners moenie die verdagte nader nie, maar die polisiekantoor bel by 082 466 7490 “wanneer hy onder verdagte omstandighede gewaar word”.

Sy sê verskerpte patrollies is vir Westdene gereël.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.