On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Capitec-fout lei tot dubbelbetalings vir Hartswater-gastehuis se personeel

───   ZENANDE MPAME 15:05 Tue, 04 Feb 2025

Capitec-fout lei tot dubbelbetalings vir Hartswater-gastehuis se personeel | News Article
Capitec-fout lei tot dubbelbetalings vir Hartswater-gastehuis se personeel. Foto verskaf

Sake-eienaars kan groot geld verloor, of hulle kan met ’n magdom administrasie opgesaal word wanneer ’n tegniese fout in aanlyn bankdienste dubbelbetalings tot gevolg het.

’n Ooreenkoms is met werknemers van ’n gastehuis op Hartswater bereik nádat hul salaris dubbel betaal is weens ’n aanlyn fout. Die personeel van Barons Galley & Lodge het twee salarisbetalings vir Januarie ontvang ná ’n probleem met Capitec Bank se bank-app. 

Capitec Bank het bevestig ’n tegniese fout Vrydag (31/1) met sy aanlyn bankdienste het veroorsaak dat betalings verkeerdelik twee keer deurgevoer is.

“Ons het salarisse met die sakebank-app betaal, maar toe wys die stelsel dat die transaksie misluk het. Ons het dit toe weer gedoen,” vertel Willem Lock, gastehuisbestuurder.

“Ons personeel het ons begin bel en gesê hulle voel baie geliefd omdat ons hulle twee keer betaal het. Toe ons die stelsel nagaan, het dit gewys die geld het twee keer deurgegaan. Wat vreemd is, is dat die tweede transaksie ook as ‘misluk’ gewys het.”

Lock sê hulle het toe Capitec Bank se sakebankkliëntediens gebel, wat hulle meegedeel het die stelsel gee probleme en transaksies word twee keer verwerk. Die bank het bygevoeg hy is verseker vir sulke gevalle.

’n Konsultant het by navraag aan OFM Nuus bevestig die aanlyn bankstelsel het probleme ervaar. Die bank het verskeie versekeringsopsies; in dié geval val dit onder algemene sakeversekering, wat onder meer geboue, voorraad, glas, kontant en elektroniese toerusting dek.

‘Die dubbele aftrekkings was aan ’n tegniese fout in Nedbank se stelsel’

Volgens News24 het verskeie Capitec-kliënte vier jaar gelede ’n wrede ontnugtering gekry toe hulle een oggend wakker word en sien dat geld twee keer van hul rekeninge afgetrek is. Die bank het destyds bevestig die dubbele aftrekkings was weens ’n tegniese fout en onderneem om ondersoek in te stel oor hoe ’n winkel wat ’n ander bank gebruik, steeds geld van Capitec-rekeninge kon verhaal.

Business Live het berig dat die dubbele aftrekkings wat sommige kliënte ervaar het, te wyte was aan ’n tegniese fout in Nedbank se stelsel, wat betalings by hul verkooppuntterminale beïnvloed het.

“Ons het Maandag met ons personeel vergader om die situasie te bespreek en ’n ooreenkoms is bereik, maar ek mag nie oor die besonderhede uitwei nie,” sê Lock.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.