On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Winburg-man binnekort hof toe ná pa se mesdood

───   11:59 Thu, 02 Jan 2025

Winburg-man binnekort hof toe ná pa se mesdood | News Article
Foto ter illustrasie: BBC

’n Man van Winburg kom binnekort voor in die plaaslike landdroshof nadat sy pa gesterf het ná ’n uitval in ’n kuierplek op dié Vrystaatse dorp.

Die 21-jarige en sy pa (42) het omstreeks 11:00 op Nuwejaarsdag (1/1) in ’n taverne gekuier toe hulle blykbaar stry kry, sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. 

Na bewering het die jong man sy pa sy pa noodlottig in die bors gesteek. Die slagoffer is na ’n plaaslike hospitaal gebring, waar hy later aan die borswond beswyk het, sê Kareli. Hospitaalwerkers het die polisie ontbied, wat ’n moordsaak geopen het.

Ná voorlopige ondersoeke is die 21-jarige in hegtenis geneem op aanklag van moord. Hy kom na verwagting binnekort voor in Winburg se landdroshof.

Geskille kan besleg word sonder geweld. Foto ter illustrasie: Pixabay

Keer so dat ’n rusie handuit ruk

Al verskil elke woordewisseling, kan sekere strategieë help om gemoedere te kalmeer, volgens die webtuiste Mental Health:

  • Haal diep asem en tel tot tien voor jy reageer.
  • Luister daadwerklik na wat die ander persoon sê of probeer sê.
  • Begin jou sinne met “ek” sodat die ander persoon nie voel jy verkwalik hulle nie, byvoorbeeld: “Ek voel seergemaak,” nie: “Jy maak my gevoelens seer,” nie.   
  • Soek gemeenskaplike grond om ’n gevoel van eenheid te skep en samewerking aan te moedig.
  • Verskoon jou vir ’n oomblik en gaan staan of sit op ’n stil plek sodat jy rustig kan raak.
  • Gebruik humor, waar toepaslik, om die atmosfeer te verlig en spanning te verminder.
  • Streef na begrip deur oop vrae te vra wat jou help om insig in die ander persoon se oogpunt te kry.
  • Bied ’n praktiese oplossing aan wat albei partye se bekommernisse in ag neem.

Hierdie strategieë kan help om konflik doeltreffend te hanteer en beter kommunikasie in uitdagende situasies te bevorder.

Intussen is niemand nog in hegtenis geneem nie nadat die liggaam van ’n vermiste kleuter op Sondag 17 November toegedraai in ’n swart plastieksak op Winburg gekry is. 

Lethabo Litabe. Foto verskaf

Lethabe Litabe (3) is ’n week vantevore as vermis aangemeld nadat hy by bure gaan speel het, maar nooit tuisgekom het nie. ’n Soektog is begin en sy is liggaam in iemand se erf gevind, het Stephen Thakeng, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan sers. Liezel van der Westhuizen van Winburg se speurdiens by 082 466 7678 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.