Central SA
Pogings verskerp om waterkrisis op te los, sê Mangaung-metro─── KEKELETSO MOSEBETSI 08:54 Fri, 13 Dec 2024
Mangaung-metro sê hy gaan pogings opskerp om die voortdurende waterkrisis in Bloemfontein die hoof te bied.
Knaende wateronderbrekings, wat die laaste weke midde-in ’n hittegolf vererger het, plaas die metro se langdurige uitdagings met verouderde infrastruktuur opnuut in die soeklig.
DA-rdl. Pieter Lotriet is een van talle belanghebbendes wat munisipale amptenare kritiseer vir jare se nalatigheid. Hy sê herhaalde waarskuwings en voorgestelde oplossings om die metro se wankelende waterinfrastruktuur reg te ruk, is eenvoudig geïgnoreer.
‘Dekades se verwaarlosing en swak beplanning’
“Dit is nie ’n skielike krisis nie. Dekades se verwaarlosing en swak beplanning het ons hier gebring. Metro-amptenare moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul versuim om in langtermyn-infrastruktuurverbeterings te belê,” meen Lotriet.
Die VF Plus stem met hom saam. “Die kern van Bloemfontein se waterprobleem moet geïdentifiseer en opgelos word,” het dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, koukusleier, Donderdag (12/12) ná ’n raadsvergadering gesê waar die waterprobleem bespreek is.
“Dit gaan jaarliks oor die feestyd beroerd,” sê sy, “maar ongelukkig stel die metro nou water-rantsoenering in. Watertoevoer gaan saans beperk word sodat die reservoirs kan vol loop. Die probleem is egter dat dit net ’n tydelike oplossing is.”
ANC-raadslid Gregory Nthatisi, Mangaung-burgemeester, het die erns van die situasie erken, maar het gister onder skoot van die opposisie gekom omdat hy nie die raadsvergadering bygewoon het nie wat hulle as uiters belangrik beskou het.
Hy beweer die metro se opgaardamme het opgedroog en damvlakke is kritiek laag. Die vier damme wat water aan Mangaung lewer, (met hul vlakke op Maandag 9/12), is: Rustfontein (53,3%), Welbedacht (65,7%), Knellpoort (87,2%) en Groothoek (52%).
“Die krisis wat ons in die gesig staar, is te wyte aan verskeie faktore, insluitend natuurlike oorsake. Ons werk daaraan om waterverbruik te rantsoneer om ons damme kans te gee om aan te vul.
“Intussen het ons gereël vir watervoorsiening via vragmotors, insluitend nasionale ondersteuningsvoertuie, en het ons JoJo-tenks in gemeenskappe staangemaak om beperkte toegang tot water te verseker,” het Nthatisi gesê.
Nthatisi beklemtoon die behoefte aan langtermynoplossings. Dit sluit in om bouwerk aan die pyplyn van die Gariepdam na Mangaung te bespoedig. Hy lig ook samewerking uit met instellings soos die Universiteit van die Vrystaat, wat voorgestel het om toegang tot ondergrondse waterbronne te verkry.
‘Moontlikheid om ondergrondse waterbronne te benut’
“Ons ondersoek die moontlikhede om ondergrondse waterbronne te benut om ons damme aan te vul en ’n volhoubare watervoorraad vir die metro te skep,” sê Nthatisi.
Hy spreek sy spyt uit oor die voortgesette wateruitdagings, veral tydens die feestyd, en inwoners verseker dat die metro onvermoeid werk om die krisis op te los.
“Ons verstaan volledig dat water lewe is. Ons vra opreg verskoning vir die ongerief en verbind my daartoe om dié krisis te oorkom,” sê hy.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg