On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse ma brand kinders met strykyster oor stryery

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:52 Fri, 25 Oct 2024

Vrystaatse ma brand kinders met strykyster oor stryery | News Article
Foto: iStock

’n Vrystaatse ma is ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat sy haar kinders met ’n strykyster gebrand het.

Die streekhof in Welkom het die 37-jarige tot vier jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, sê sers. Sinah Mpakane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Haar vonnis is opgeskort vir ’n tydperk van vyf jaar op voorwaarde dat sy in dié tyd nie skuldig bevind word aan ’n soortgelyke oortreding nie. Sy moet ook suksesvol ’n ouerskapprogram ondergaan.”

Die veroordeelde ma is tydens vonnisoplegging Donderdag (24/10) ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

‘Nadat sy hulle gebrand het, het sy hulle bed toe gestuur’

“Die kinders, ’n 11-jarige en tweeling (9), het glo op die bed gespring nadat hulle stry gekry het. Die ma het hulle al drie geroep en aangesê om hul hande op die strykplank te sit,” sê Mpakane

Nadat sy hulle gebrand het, het sy hulle bed toe gestuur. Mpakane sê die ma het glo die volgende dag weer een van die tweeling se hande met die strykyster gebrand nadat die kind “te veel geraas het”.

Mpakane sê ’n onderwyser het die volgende dag die brandwonde opgemerk en by navrae gehoor wat die ma gedoen het, waarna sy polisie toe is.

‘Vier beskuldigdes staan tereg op verskeie aanklagte’

Intussen bly ’n Bloemfonteinse vrou, haar kêrel en nog twee mense in aanhouding nadat hulle na bewering haar tweejarige aangerand het.

Die vier beskuldigdes staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, kindermishandeling, kinderverwaarlosing en versuim om kindermishandeling aan te meld.

Die beweerde misdade het in die voorstad Noordhoek plaasgevind en in September aan die lig gekom toe die ma haar seun na die Pelonomi-hospitaal geneem en beweer het hy het geval.

Ma, kêrel van Bloemfontein wat kinders glo aanrand, laat vaar borgtog | News Article

Adriaan Cornelius Seriven (geel hemp) en Wendy Nel (rooi hemp). Foto: OFM Nuus

Die kleuter moes ’n noodoperasie ondergaan weens veelvuldige beserings, insluitend gekneusde oë, swelling en ’n gesplete lip, wat tot by sy neus gestrek het.

Ná dié voorval is die polisie in kennis gestel, wat gelei het tot die inhegtenisneming van die ma (34), haar kêrel (24), en die egpaar wat by hulle woon, Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40). Die identiteit van die ma en haar kêrel word weerhou om die kinders te beskerm.

Verdere ondersoek het gelei tot bykomende aanklagte tydens hul tweede hofverskyning op 15 Oktober. Hulle word nou ook daarvan aangekla dat hulle die seuntjie se susters (6 en 9), asook sy boetie (4) aangerand en verwaarloos het.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.