On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Childline Vrystaat soek dringend tydelike sorg en pleegouers

───   HEIDRÈ MALGAS 15:31 Fri, 25 Oct 2024

Childline Vrystaat soek dringend tydelike sorg en pleegouers | News Article
Photo: iStock

Baie kinders hunker na stabiliteit, ’n gesin en ’n veilige tuiste, soveel te meer met dié dat die feestyd nader kom.

Baie kinders hunker na stabiliteit, ’n gesin en ’n veilige tuiste, soveel te meer met dié dat die feestyd nader kom.

Childline Vrystaat het dringend ’n behoefte aan tydelike veiligesorgouers en voornemende pleegouers. “Ons onmiddellike uitdaging is dat ons tans geen hulpbronne beskikbaar het nie,” sê Cynthia Burger, maatskaplike bestuurder.

“Ons het geen opsies om kinders te plaas nie. Al die jeugsorgsentrums, die tydelike plekke van veiligheid, sowel as ons databasis van pleegouers en veilige ouers, is vol. Die huise is oorvol en die jeugsentrums is oorlaai, so daar is tans geen alternatiewe nie.

‘Elke stap word mooi verduidelik’

“Gewoonlik, wanneer iemand hulp wil aanbied, plaas ek ’n aankondiging op sosiale media dat mense welkom is om ons kantoor te kontak of om my te e-pos. Ek stuur dan vir hulle ’n inligtingsblad om te verduidelik wat tydelike plek van veiligheid en pleegsorg behels.”

Die aansoekvorms word na ’n maatskaplike werker gestuur sodat hulle kontak kan maak met die potensiële pleegouers. Hulle word deur die hele proses begelei en elke stap word mooi verduidelik.

“Indien hulle dan besluit dat hulle belangstel, volg daar ’n huisbesoek vir die keuringsproses.”


Childline reël terapiesessies en as ekstra dienste benodig word, help die maatskaplike werker gewoonlik daarmee.

“Op die oomblik word daar geweldig baie sake aangemeld. Ernstige gevalle waar kinders verwyder moet word.

“Die rol van maatskaplike werkers is altyd om eerstens te probeer om die kinders in hul gesinne te hou. Maar daar is gevalle waar die misdrywe so ernstig is en die kinders se lewens in gevaar is, dat ons geen ander keuse het as om hulle te verwyder nie.”

‘Talle ernstige gevalle vereis dringende aandag’

Childline moedig gemeenskappe aan om gevalle aan te meld voordat dit te laat is. Die aantal aanmeldings wat tans sy kantore bereik, is “astronomies”, en talle ernstige gevalle vereis dringende aandag.

“In hierdie stadium is my plan om soveel moontlik bemarking te doen en dan met die keuringsproses te begin vir almal wat belangstel,” sê Burger. “Natuurlik kan die bemarking en die verkryging van nuwe voornemende pleegouers nooit ophou nie. Dit moet ’n volgehoue bemarkingspoging wees sodat ons die databasis op datum kan hou.”

Mense moenie bang wees om sake anoniem aan te meld nie, veral as daar ’n kind is wat verwyder moet word. Niemand hoef nie bekommerd te wees dat hulle gedagvaar sal word of vir enige nadelige gevolge nie, want die wet vereis dat sodra ’n mens ’n vermoede het, jy dit moet aanmeld. Jy hoef nie honderd persent seker te wees nie.

Foto: childlinesa

“Sodra daar ’n vermoede is, moet jy dit aanmeld. Wat dikwels gebeur, is dat die gevalle eers by ons aangemeld word wanneer dit reeds te laat is.”

Daar is baie suksesverhale van kinders wat in pleegsorg geplaas is en wat hul skoolloopbaan kon voltooi omdat hulle nou in ’n meer stabiele omgewing is. Daar is baie kinders wat terugkeer na Childline net om dankie te sê.

“’n Kind wat self in pleegsorg was en nou ’n suksesvolle vrou is, het my gekontak omdat sy ook belangstel om ’n kind in haar sorg te neem. Sy wil dieselfde stabiliteit en geleenthede bied as wat sy ervaar het.

‘Daar is baie kinders wat hulp nodig het’

Burger vra mense moet hul hart oopmaak. “Al weet ek dit is nie ’n maklike pad nie, is daar baie meer kinders as net babas. Mense neig gewoonlik na babas, maar daar is baie kinders wat hulp nodig het. Elke kind, ongeag hul ouderdom, verdien liefde, aandag en omgee.”

Enigiemand wat belangstel om ’n pleegouer te word, kan vir Cynthia ’n e-pos stuur. 

OFM Nuus/Heidre Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.