On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Naka en buurman skik oor aanrandingsaak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:30 Fri, 25 Oct 2024

Naka en buurman skik oor aanrandingsaak | News Article
Naka Drotské en Lionel Palmer Vydag by die hof. Foto: Charné van der Merwe

’n Oud-Springbok en sy buurman het hul aanrandingsklagte teen mekaar laat vaar.

Naka Drotské, sy vriend Lionel Palmer en sy buurman Vivian John de la Hunt het Vrydag (25/10) vir die derde keer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

De la Hunt is na bewering omstreeks 20:30 op Saterdag 14 September deur Drotské en Palmer by sy huis in die Bloemfonteinse voorstad Pentagonpark aangerand. Luidens die akte van beskuldiging het Drotské en Palmer vir De la Hunt geskop, met die vuis geslaan en sy gesig deur die grond gesleep.

OFM Nuus het vroeër berig De la Hunt het ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die twee vriende aanhangig gemaak.

Vivian John de la Hunt en Mary-Ann Bell van C Diedericks Attorneys Inc. Foto: Charné van der Merwe

Drotské en Palmer is die volgende dag in hegtenis geneem en het daardie Maandag in die hof verskyn, waar hulle op eie verantwoordelikheid vrygelaat is.

Drotské beweer ná oor-en-weer-boodskappe tussen hom en sy buurman, het hy oorgestap om die saak op te los, toe die buurman hom glo aangerand het.

In ’n Facebook-inskrywing het Drotské uitgewei oor die voorval en aangevoer hy het uit selfverdediging opgetree. Hy en sy vrou, Marzanne, het op 30 September ’n beskermingsbevel teen De la Hunt gekry om “verdere teistering” te voorkom.

‘Geen van die partye het vergoeding in hierdie ooreenkoms ontvang nie’

Hy het geskryf hulle beplan om ’n saak van crimen injuria aanhangig te maak, indien nodig. Drotské het intussen ’n aanrandingsklagte teen sy buurman by die Bayswater-polisiekantoor ingedien.

“Ná suksesvolle mediasie … wat deur die NGV afgehandel is, is die strafregtelike aanklagte teen albei partye teruggetrek,” sê Adriaan Janse van Rensburg, die prokureur wat albei partye Vrydag verteenwoordig het. “Geen van die partye het vergoeding in hierdie ooreenkoms ontvang nie.”

Volgens Janse van Rensburg is die beskermingsbevele wat Drotské en De la Hunt voorheen teen mekaar gekry het, nou ’n finale bevel gemaak is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.