On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Kestell-plaasmoordenaar kry sewe lewenslange vonnisse

───   13:58 Fri, 25 Oct 2024

Kestell-plaasmoordenaar kry sewe lewenslange vonnisse | News Article
Die twee beskuldigdes in die Kestell-landdroshof. Foto: News24

Een van die moordenaars wat in Julie 2022 sewe mense op die plaas Lismore in die distrik Kestell vermoor het, is tot 210 jaar gevangenisstraf in die rondgaande hooggeregshof op Bethlehem gevonnis.

Die beskuldigde Kamohelo Motankisi (35), van Tlholong naby Kestell, is Donderdag (24/10) sewe lewenslange vonnisse opgelê op sewe aanklagte van moord, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, tien jaar op twee aanklagte van seksuele aanranding, vyf jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en vyf jaar vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal. 

Alle vonnisse moet gelyklopend met die lewenslange gevangenisstraf uitgedien word.

Regter Celest Reinders, aanklaer Antonnette Ferreira en speurkapt. Alfons Kokonyana van die provinsiale moord-en-roof-eenheid, asook die Phuthaditjhaba-eenheid, het Kamohelo Motankisi suksesvol skuldig bevind met die hulp van verskeie misdaadeenhede. 

Intelligensie en die honde-eenheid het ’n deurbraak in die saak gemaak deur albei beskuldigdes op 15 Julie 2022 in hegtenis te neem. 

Die twee het foto’s op sosiale media geplaas ná die moorde waar hulle in besit van ’n vuurwapen is wat op die plaas gesteel is. Hulle is verder na ’n ander plaas waar hulle ook ’n paar items gesteel het.

Een van die twee beskuldigdes, Tseko Lerato Selepe, is op 13 Maart deur dieselfde hof effektief tot 30 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Motankisi is op 15 Oktober skuldig bevind aan die moord op ses vroue en een man – Binto Smit, haar seun Rhudi, en vyf plaaswerkers: Nokufa Monareng (30), Lerato Moloi (33), Mothoduwa Moloi (36), Nomasonto Zulu (56) en Nomasontsha Maduna (43).

Die hooggeregshofregter Celest Reinders het gesê vonnisoplegging is inderdaad ’n moeilike taak.

Daar word verwag om gepaste vonnisse na skuldigbevindings op te lê, met inagneming van die aard van die misdaad en openbare belang. Sy het gesê die vonnis moet al die faktore noukeurig opweeg en elkeen moet in ag geneem word.

Die regter het al die rolspelers van die polisie en 19 getuies bedank, insluitend die polisie wat direk en indirek by die saak betrokke was.

Die beskuldigde het tereggestaan op twaalf aanklagte: sewe moorde, huisbraak met die opset om te roof en roof onder verswarende omstandighede, twee seksuele misdrywe, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, en huisbraak met die opset om te steel en diefstal.

‘Ek wil graag die hele ondersoekspan bedank’

“Ek wil graag die hele ondersoekspan bedank, veral speurkapt. Alfons Kokonyana, wie se onvermoeide pogings instrumenteel was om geregtigheid aan die slagoffers en hul families te bring,” het lt-genl. Baile Motswenyane, die Vrystaatse provinsiale polisiekommissaris, gesê.

Uiteindelik het die beskuldigde, Kamohelo Motankisi, standpunt ingeneem en voor die hof om verskoning gevra aan alle lede van die families wat hy verontreg het.

OFM Nuus cg/mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.