On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Betogers by Bloemfonteinse hof ná vier kinders se aanranding – VIDEO

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:46 Wed, 16 Oct 2024

Betogers by Bloemfonteinse hof ná vier kinders se aanranding – VIDEO | News Article
Betogers Dinsdag by die Bloemfonteinse landdroshof

’n Bloemfonteinse ma, haar kêrel en nog twee mense wat almal glo haar vier kinders aangerand en verwaarloos het, verskyn Donderdag (17/10) weer in die Bloemfonteinse landdroshof.

Dié vier sou Dinsdag (15/11) verskyn het, maar een se prokureur was by ’n ander saak betrokke, sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Die beskuldigdes, wat almal in een huis in die voorstad Noordhoek woon, het Donderdag 3 Oktober vir die eerste keer in die landdroshof verskyn op aanklagte dat hulle die tweejarige ernstig aangerand het. Dié aanklag is later verander na poging tot moord.

Earle het vroeër aan OFM Nuus  gesê die kleuter is omstreeks 08:40 op 22 September na die Pelonomi-hospitaal gebring met beserings, onder meer van vuishoue in die gesig.

‘Al vier kinders word op ’n veilige plek versorg’

Die polisie is in kennis gestel, waarna die ma (34), haar kêrel (35) en die egpaar Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40) wat by hulle inwoon, in hegtenis geneem is. Die identiteit van die ma en haar kêrel word weerhou om die kinders se identiteit te beskerm.

Ná verdere ondersoek is ’n nuwe klag egter met hul tweede verskyning bygevoeg omdat hulle na bewering ook die tweejarige se susters (9 en 6) en broer (4) aangerand en verwaarloos het. Al vier kinders word op ’n veilige plek versorg, sê Earle.


’n Groep betogers het Dinsdag (15/10) buite die hof saamgekom voor die hofsaak om te eis dat borgtog nie toegestaan word aan die vier beskuldigdes nie. Een van hulle, Hester Bekker van die organisasie Gaurdian and Angel Bloemfontein, sê sy het tien jaar lank vir die gesin gesorg toe die pa van die drie jongste kinders nog by hulle gewoon het.

“Nadat die ma en dié man uitmekaar is, het sy deurmekaar geraak met die kêrel wat ’n baie negatiewe invloed op haar gehad het.”

Volgens Bekker sou die ma en die kêrel lang tye op ’n slag saam met die kinders wegraak sonder om vir iemand te sê waarheen hulle gaan.

‘Dis een van die mense van wie jy dit nooit sou verwag nie’

“Die mense wat die ma geken het en wat ook saam met haar by ’n kleuterskool in die stad gewerk het, is geskok oor haar optrede omdat sy altyd ’n baie goeie ma vir haar kinders was. Dis een van die mense van wie jy dit nooit sou verwag nie.”

Bekker sê die oudste dogter is ’n ander man se kind, maar het ook by die ma gewoon. “Die pa van die ander drie kinders het inmekaargesak toe hy foto’s van sy kinders sien en in watse haglike omstandighede hulle leef. Ons is besig om die oudste dogtertjie se pa op te spoor.”

Bekker sê die kêrel se ma, wat in Engeland woon, het vir hom ’n prokureur gereël. Die ander drie beskuldigde kry regshulp. “Ons sal weer môre (Donderdag) daar wees om die stem te wees vir die kinders en in die hoop dat hulle nie borgtog sal kry nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.