On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Health

Kanker: Vroeë opsporing lewensbelangrik

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Fri, 13 Sep 2024

Kanker: Vroeë opsporing lewensbelangrik | News Article
Die Nasionale Borskankerstigting moedig almal aan om gereeld self hul borste te ondersoek. Foto: iStock

“Hoewel selfondersoeke ’n waardevolle hulpmiddel vir vroeë opsporing is, mag dit nie gereelde mammogramme en kliniese borsondersoeke vervang nie.”

Vroeë opsporing van borskanker is lewensbelangrik vir doeltreffende behandeling en om pasiënte se kans op oorlewing te verbeter.

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand, ’n belangrike tyd om die belangrikheid van selfondersoeke te beklemtoon.

‘Moenie net op mediese spesialiste staatmaak nie’

Die Nasionale Borskankerstigting moedig almal aan om gereeld self hul borste te ondersoek en nie net op mediese spesialiste staat te maak om knoppe of veranderinge in hul borste op te spoor nie.

Die hoofdoel van ’n selfondersoek is om vertroud te raak met die normale voorkoms en gevoel van ’n mens se borste. Hierdie bewustheid help jou om enige veranderinge of abnormaliteite, soos nuwe knoppe, te identifiseer.

Selfondersoeke is waardevol vir vroeë opsporing. Foto: iStock

Hoewel selfondersoeke ’n waardevolle hulpmiddel vir vroeë opsporing is, mag dit nie gereelde mammogramme en kliniese borsondersoeke vervang nie.

Vroue van alle ouderdomme moet minstens maandeliks selfondersoeke doen. Motto Health Care  stel voor vroue tussen 40 en 70 kry jaarliks ’n mammogram.

Sowat 40% van gediagnoseerde borskankers word opgespoor deur vroue wat ’n knop opmerk, berig Breast Cancer Now.

Vir vroue wat menstrueer is dit die beste om ’n ondersoek te doen ’n paar dae nadat jou maandstonde geëindig het. Postmenopousale vroue moet elke maand ’n spesifieke dag kies, soos die 1ste of 15de, vir hul selfondersoek.

Bron: iStock

Ondersoek jou borste só self:

Visuele ondersoek – staan voor ’n spieël sonder ’n bostuk. 

  • Hou eers albei arms ontspanne regaf langs jou sye.
  • Plaas albei hande op jou heupe.
  • Staan met albei arms na bo met jou hande agter jou kop.
  • Kyk vir enige veranderinge in grootte, vorm, simmetrie, rimpeling en kuiltjies in jou borste.

Fisieke ondersoek – lê op jou rug met jou linkerarm bo om jou kop en ’n kussing onder jou linkerskouer sodat die borsweefsel uitgesprei en platter is, of staan in die stort en smeer seep op jou vingers om makliker oor jou borste te laat gly. 

  • Gebruik die kussinkies (nie die punte nie) van die drie middelvingers van jou regterhand om jou linkerbors te ondersoek.
  • Beweeg die kussinkies van die vingers in reguit vertikale lyne op en af oor jou bors terwyl jy van een kant na die ander werk.
  • Beweeg jou vingers in sirkels reg rondom jou bors en gebruik kleiner sirkels rondom jou tepels.
  • Beweeg in wiggies (kwarte en agtstes) van buite af binnetoe na jou tepels en weer terug, in die rondte van jou bors om.
  • Pas verskillende drukvlakke toe – lig om die borsweefsel naaste aan die vel te voel, medium om dieper te voel, en ferm om die weefsel naaste aan jou bors en ribbes te voel.
  • Gebruik ’n metodiese tegniek soos om naby jou sleutelbeen te begin en dan kloksgewys na jou tepels te beweeg.
  • Moenie haastig wees en die ondersoek afjaag nie.
  • Herhaal die proses omgekeerd aan die regterkant.


Voel ook limfkliere. Plaas jou linkerhand op jou middel. Probeer met jou regterhand enige vergrote limfkliere in die linkeroksel voel sowel as rondom jou linkersleutelbeen. ’n Vergrote limfklier voel soos ’n mieliepit of ’n droë boontjie. Herhaal omgekeerd aan die regterkant.

Volgens Kansa is borsveranderinge dikwels nie kwaadaardig nie en hoef dit nie kommer te wek nie, maar in sommige gevalle kan die veranderinge op iets ernstigs dui.

Die organisasie beveel egter aan om so gou moontlik ’n afspraak met ’n dokter te reël as jy ’n knop voel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.