On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Inspiration

Bloemfonteinse dokter getuig van haar ‘wonderbaarlike’ herstel

───   ELSABÉ DE JAGER 15:08 Thu, 12 Sep 2024

Bloemfonteinse dokter getuig van haar ‘wonderbaarlike’ herstel | News Article
Die bemoedigingswoorde van haar seuns, Henco, Waldo en Christo, het dr. Lynette Venter die wil gegee om te lewe. Foto verskaf

“Vergeet van al die dinge wat swaar is in hierdie wêreld. Dink vandag net aan jou.”

“Die man wat vir Lynette kom bid het, het vir haar ’n houtkruisie in haar hand gesit. Hoewel sy op daardie stadium redelik diep verdoof was, het sy regop gekom en haar hande in aanbidding gehou.”

So getuig dr. Frieda Pienaar, internis van Bloemfontein, oor die wonderbaarlike herstelpad wat sy sedert 22 Junie saam met dr. Lynette Venter (56), die plaaslike oftalmoloog, stap.

Venter, wat op daardie dag in Mediclinic Bloemfontein opgeneem is met ernstige longontsteking, het onlangs in dié privaat hospitaal voor ’n volgepakte saal vertel van die tyd toe sy, midde-in haar ernstige siekte, deurentyd bewus was van die vrede en troos wat haar omvou het.

Dr. Frieda Pienaar (regs) het elke tree op die herstelpad saam met Lynette gestap. Foto verskaf

Op ’n dag tydens haar lang hospitaalbehandeling het sy bewus geword van koorsang. “Dit was ’n grou winterdag. Mense het hartseer verby my beweeg in die intensiewesorgeenheid waar ek 25 dae gelê het. Ek het vir die suster gevra waar Wilna, ’n vriendin van my, is. Sy het Wilna nie geken nie.”

Venter het kort daarna bewus geword van Wilna se teenwoordigheid langs haar bed: “Yskoue hande en pienk bokhaartruitjie.” Venter wou weet hoe sy moes baklei teen iets wat sy nie ken nie. Wilna se trooswoorde was: “Jy hoef nie. Jesus het klaar vir jou baklei aan die kruis. Rus by God se voete.”

In die intensiewesorgeenheid waar Venter met ’n buis in haar mond gelê het en ook ’n trageostomie moes kry om haar lugweg te verwyd vir beter asemhaling, het sy twee ernstige terugslae beleef.

Vir Lynette was Seef, haar man, die krag wat die gesin in dié moeilike tyd bymekaar gehou het. Foto verskaf

Steeds het sy krag geput uit die nabyheid van haar geliefdes. Die gesigte van haar drie seuns, Henco en Christo (21) en Waldo (14), het by haar verbybeweeg en sy het besluit sy wil leef. Sy onthou ook die woorde van Seef, haar man: “Vergeet van al die dinge wat swaar is in hierdie wêreld. Dink vandag net aan jou.”

Nadat Venter se toestand, teen alle menslike verwagtinge in, so verbeter het dat die trageostomiebuis op 15 Julie verwyder kon word, is sy die volgende dag na ’n gewone saal oorgeplaas. Op 20 Julie is sy uit die hospitaal ontslaan.

’n Tweede kans

“Eers twee dae ná my ontslag kon my brein, wat soos ’n spinnekopweb gevoel het, die mediese feite agtermekaar kry. Dit het my net weer laat besef dat God die bron van alle lewe is.”

Vir dié dapper vrou, wat die geleentheid vir getuienis voor die hospitaalpersoneel, die dokters en haar familie ’n “jubeldag” noem, lê die pad na volle herstel nog lank voor haar uitgestrek.

Dit kan nog ’n tyd duur voordat sy weer die leisels voluit kan opneem in Westdene, waar sy sedert 2004 praktiseer. Sy gryp egter nou elke oomblik met haar hele wese aan, want sê sy, sy beskou dit as ’n tweede kans om voluit te lewe.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.